Hy:
1“Jou voete is so mooi in jou skoene, edel dogter,
die rondings van jou heupe is soos juwele
wat deur kunstenaarshande gemaak is.
2Jou naeltjie is 'n ronde kom
waarin die kruiewyn nie ontbreek nie.
Jou maag is 'n hoop koring
met lelies omring.
3Jou twee borste is soos takboklammers,
soos die tweeling van 'n ribbok.
4Jou nek is soos 'n toring van ivoor,
jou oë soos die damme by Gesbon,
by die poort van dié groot stad.
Jou neus is soos die toring op Libanon
wat na Damaskus toe kyk.
5Jou kop is soos die Karmel,
jou hare soos rooi wol,
jou haarlokke bekoor die koning.
6“Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste,
met soveel wat geniet kan word.
7Jou slanke gestalte is soos 'n palmboom,
jou borste soos druiwetrosse.
8Ek dink ek gaan teen die palmboom opklim
en sy trosse blomme gryp.
Laat jou borste vir my
soos trosse druiwe wees,
die reuk van jou neus soos dié van appels,
9jou mond soos goeie wyn
wat glad na binne gly vir die man wat jy liefhet,
wat tussen sy lippe en sy tande deur vloei.”
Sy:
10“Ek behoort aan die man wat ek liefhet
en dit is na my dat hy smag.
11Kom, man wat ek liefhet, kom ons gaan veld toe,
kom ons gaan slaap in die dorpies;
12ons gaan vroeg smôrens na die wingerde toe,
ons gaan kyk of die wingerdstokke bot,
of die botsels oop is
en die granaatbome bloei.
Daar sal ek my liefde vir jou gee.
13“Die liefdesappels versprei hulle geur;
daar is allerlei keurige vrugte by ons deur, vars en oud;
ek het hulle vir jou gebêre, man wat ek liefhet.