Vroue:
1“Waarheen is die man wat jy liefhet,
mooiste van al die vroue?
Waarheen is die man wat jy liefhet?
Ons sal hom saam met jou soek.”
Sy:
2“Die man wat ek liefhet, is af na sy tuin toe,
na die kruiebeddings toe
om sy skape tussen die tuine te laat wei
en om lelies te pluk.
3Ek behoort aan die man wat ek liefhet,
en die man wat ek liefhet, is myne,
hy wat sy skape tussen die lelies laat wei.”
Hy:
4“My liefling, jy is so mooi soos Tirsa,
so aantreklik soos Jerusalem,
so indrukwekkend soos 'n afdeling vaandeldraers.
5Draai jou oë liewer weg van my af,
hulle maak my onrustig.
Jou hare is soos 'n trop bokke
wat teen die Gileadberge afkom.
6Jou tande is so wit soos 'n trop ooie
wat nou net skoon gewas is,
elkeen met 'n tweeling,
nie een sonder 'n lam nie.
7Die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte
agter jou sluier.
8“Daar is sestig koninginne,
tagtig byvroue,
jong vroue sonder tal,
9maar sy, my duif, my volmaakte, is enig,
die enigste dogter van haar ma,
haar ma se oogappel.
Die jongmeisies kyk na haar;
hulle praat met bewondering oor haar,
die koninginne en die byvroue sing haar lof.
10“Wie is dit wat soos die daeraad verskyn,
so pragtig soos die maan,
so helder soos die son,
so indrukwekkend soos 'n afdeling vaandeldraers?
11“Ek gaan af na die neuteboord toe,
ek gaan kyk na die jong boompies by die spruit,
ek gaan kyk hoe die wingerde bot,
hoe die granaatbome bloei.
12Ek ken myself nie,
dit is of sy my laat ry
op die strydwa van die keur van my volk.”
Vroue:
13“Kom terug, kom terug, Sulammitiese vrou!
Kom terug, kom terug dat ons jou kan sien!”
Sy:
“Wat wil julle sien aan die Sulammitiese vrou
waar sy dans in die soldatekamp?”