1Was jy maar my broer!
Het jy ook maar aan my ma gedrink!
Dan het ek jou gesoen as ek jou in die straat kry
en niemand sou my daaroor kwalik geneem het nie.
2Dan het ek jou saamgevat en na my ma se huis toe gebring
en het jy my daar die kuns van die liefde geleer.
Dan het ek jou laat drink van my kruiewyn,
van my granaatsap.
3“Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my!
4Ek smeek julle, vroue van Jerusalem,
wat is dit dat julle die liefde wakker maak en aanvuur
voordat die tyd daarvoor ryp is?”
Vroue:
5“Wie is dit wat daar uit die woestyn uit kom
terwyl sy leun op die man wat sy liefhet?”
Sy:
“Ek het jou wakker gemaak onder 'n appelboom,
daar waar jou ma swanger geword het,
waar sy wat jou in die wêreld gebring het, swanger geword het.
6Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors,
soos die seëlring aan jou arm.
Die liefde is sterker as die dood,
die hartstog magtiger as die doderyk;
dit brand en vlam soos vuur.
7Strome water kan die liefde nie blus nie,
riviere kan dit nie afkoel nie.
Al wil iemand vir die liefde
al die rykdom in sy huis betaal,
hy sal daaroor uitgelag word.”
Haar broers:
8“Ons suster is nog klein,
haar borste is nog nie ontwikkel nie.
Wat kan ons vir ons suster doen
die dag as hulle om haar hand begin meeding?
9As sy 'n muur was,
het ons op haar 'n silwertoring gebou,
as sy 'n deur was,
het ons haar toegemaak met sederplanke.”
Sy:
10“Ek is 'n muur, en my borste is soos torings.
Daarom is ek vir die man wat ek liefhet
iemand wat hom gelukkig maak.”
Hy:
11“Salomo het 'n wingerd gehad in Baäl-Hamon.
Hy het die wingerd aan wagte toevertrou.
Iemand sou vir die opbrengs
goed elf duisend gram silwer wou gee.
12My wingerd is myne alleen.
Hou maar die silwer, Salomo,
en sit daar twee duisend gram by
vir dié wat die opbrengs bewaak.
13Jy wat in die tuin woon
en na wie se stem jou vriende luister,
laat my jou stem hoor!”
Sy:
14“Hardloop, man wat ek liefhet,
maak soos die ribbok,
soos die takboklam op die kruieberge!”