Teen Tirus
1'n Uitspraak van die Here teen Tirus:
Huil, bemannings van die skepe wat op pad is na Tarsis toe,
want julle moederstad is verwoes.
Julle het dit gehoor toe julle van Kittiërland af gekom het.
2Julle moet stil wees, inwoners van die eiland,
julle wat handel dryf met Sidon, julle wie se rykdom oor die see aankom!
3Oor die groot waters word die graan van die Sigor, die oes van die Nyl,
na Tirus toe gebring; daarmee dryf die nasies handel.
4Laat sak jou kop in skaamte, Sidon,
want die see, die vestingstad van die see, sê:
“Ek het nooit geboortepyne gehad nie,
ek het nie kinders in die wêreld gebring nie;
ek het nie jongmanne grootgemaak,
dogters opgevoed nie.”
5Die Egiptenaars sal skrik
wanneer hulle die berig oor Tirus hoor.
6Julle moet na Tarsis toe vaar.
Huil, inwoners van die eiland!
7Is dit die stad wat altyd feesgevier het,
die stad wat al so lank bestaan,
die stad wie se mense in ver lande gaan woon het?
8Wie het die besluit geneem oor die ondergang van Tirus,
Tirus wat krone vir konings uitgedeel het,
wie se handelaars soos prinse ontvang is,
wie se sakelui die meeste op die aarde geëer is?
9Die Here die Almagtige het dit besluit.
Hy breek die trots,
Hy maak die hoogmoed tot niks, Hy verneder dié wat oor die hele aarde geëer word!
10Bewerk julle grond soos dit by die Nyl gedoen word, inwoners van Tarsis,
want daar is nie meer 'n hawe om mee handel te dryf nie.
11Die Here het sy hand oor die see uitgesteek
en Hy skud die koninkryke.
Hy het bevel gegee om Fenisië se vestingstede te vernietig.
12Hy het gesê: “Sidon, jou dae van feesvier is op 'n end,
jy sal verwoes word.
Maak klaar, vlug oor na die Kittiërs toe!
Ook dáár is nie rus vir jou nie.”
13Kyk na die Galdeërs se land,
sy volk bestaan nie meer nie:
hulle land is deur die Assiriërs 'n woonplek vir woestyndiere gemaak,
die Assiriërs het stormramme daarteen opgerig en die paleise platgestamp,
dit 'n puinhoop gemaak.
14Huil, bemannings van die skepe wat op pad is Tarsis toe,
want die stad waarvan julle afhanklik was, is verwoes.
15In daardie tyd sal Tirus sewentig jaar lank vergete lê,
die leeftyd van 'n koning.
Aan die einde van die sewentig jaar sal dit met Tirus gaan
soos in die lied oor die prostituut:
16“Vat jou lier,
stap deur die stad, vergete prostituut!
Speel mooi,
sing baie liedjies sodat hulle weer aan jou kan dink!”
17Na sewentig jaar sal die Here vir Tirus herstel. Die stad sal weer handel dryf, hy sal weer met al die koninkryke van die aarde sake doen.
18Sy wins en verdienste sal vir die Here afgesonder word, dit sal nie opgegaar of gebêre word nie, want sy wins sal bestem wees vir dié wat in die diens van die Here is,
om vir hulle volop kos en mooi klere te koop.