Die Here gaan die aarde verwoes
1Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig,
sy voorkoms verander en sy inwoners verstrooi.
2Dieselfde lot gaan almal tref:
priester en volk,
slaaf en besitter,
slavin en eienares,
koper en verkoper,
uitlener en lener,
skuldeiser en skuldenaar.
3Die aarde sal verwoes word, heeltemal verwoes word,
dit sal leeg geplunder word.
Die Here het dit gesê.
4Die aarde sal droog word, uitdroog,
die wêreld sal wegkwyn van droogte;
hemel en aarde sal vergaan,
5want die aarde is verontreinig deur sy inwoners:
hulle was ongehoorsaam aan die wet van die Here,
hulle het sy voorskrifte geminag,
sy vaste verbond verbreek;
6daarom sal 'n vloek die aarde verteer
en sal sy inwoners boet vir hulle sonde;
daarom sal die inwoners van die aarde verbrand word,
en daar sal min mense oorbly.
7Die wingerde sal verdroog en die wyn sal skaars word;
wie vrolik was, sal sug.
8Die tamboeryne sal nie meer gehoor word nie,
daar sal nie meer 'n oeslied wees nie,
die lier sal nie meer gehoor word nie.
9Niemand sal meer sing as hy wyn drink nie,
bier sal galbitter word vir dié wat dit drink.
10Die stad sal afgebreek word, dit sal onbewoonbaar word.
Die huise is toegeval, niemand kan daar inkom nie.
11In die strate sal mense kerm om wyn,
die gejuig sal verdwyn,
op die aarde sal daar geen vreugde meer wees nie.
12In die stad sal alles verwoes wees,
die stadspoorte sal daar rondlê, stukkend geslaan.
13Dit sal so kaal wees op die aarde en onder die volke
soos wanneer die olywe afgeslaan
en die laaste druiwe van die wingerde afgeoes is.
14Die mense wat oorbly, sal juig,
hulle sal die mag van die Here besing,
van die weste af sal hulle Hom prys.
15Dié in die ooste moet die Here eer;
hulle wat op die eilande van die see woon,
moet die Naam van die Here die God van Israel prys.
16Van die uithoeke van die aarde af hoor ons
liedere waarin die groot mag van die Regverdige besing word.
Maar ék sê: Ek kwyn weg, ek kwyn weg, dit is klaar met my.
Die ontroues handel troueloos,
troueloos handel hulle.
17Angs, vanggate en strikke wag vir die inwoners van die land.
18Wie van die gevaar af probeer wegkom,
beland in die vanggate, wie uit die vanggate probeer uitklim,
word in die strik gevang.
Strome water sal uit die hemel val,
die fondamente van die aarde sal skud
19en die aarde sal in stukke breek,
heen en weer waggel en wankel.
20Die aarde sal slinger soos 'n dronk mens,
heen en weer wieg soos 'n biesieskerm.
Die aarde se oortredinge rus swaar op hom,
hy sal val en nie weer opstaan nie.
21Dié dag sal die Here die magte in die hemel daarbo straf,
ook die konings van die aarde daaronder.
22Hulle sal bymekaar gebondel word
soos gevangenes wat in 'n gat toegesluit is.
Hulle sal in 'n tronk opgesluit word,
na geruime tyd sal hulle hulle straf kry.
23Die volmaan sal dof word
wanneer die Here die Almagtige
op Sionsberg en in Jerusalem as Koning sal heers
en sy mag laat blyk voor die leiers van sy volk.