Teen Jerusalem
1-2'n Uitspraak van die Here teen die plek waar visioene gesien word: Stad wat altyd vol rumoer was, wat altyd uitbundig en uitgelate feesgevier het, stad waar dié wat gesneuwel het, nie deur die swaard geval het nie, nie in 'n oorlog omgekom het nie, waarom het jou mense nou almal op die dakke van die huise geklim?
3Al jou leiers het soos een man op die vlug geslaan, hulle is gevang sonder dat 'n enkele pyl afgeskiet is. Dié wat gevang is, is almal saam gevang toe hulle ver weg gevlug het.
4Daarom het ek gesê:
“Gee pad van my af. Ek is hartseer,
moet my nie probeer troos
oor die ramp wat my volk getref het nie.”
5Die Here my God, die Almagtige, bring oor die plek waar visioene gesien word 'n dag waarop Hy die plek in beroering sal bring, waarop Hy dit sal vertrap en vernietig, die stadsmure sal afbreek.
Sy inwoners sal na die berg toe roep om hulp.
6Elam kom met pyl en boog,
hulle ry op strydwaens en perde,
Kir maak sy oorlogswapens gereed.
7Juda se vlaktes waarop hy trots is, staan vol strydwaens en perderuiters,
sy stadspoorte is beleër,
8sy vestingmure sal afgebreek word.
Dan sal julle gryp na die wapens in die Paleis van die Bos,
9julle sal sien hoe baie gate daar is in die mure van die Dawidstad
en julle sal die water van die onderste kanaal opdam,
10en die huise in Jerusalem nagaan.
Julle sal party huise afbreek om die stadsmuur te versterk
11en julle sal 'n dam tussen die mure bou vir die water van die ou kanaal.
Julle het nie geluister na Hom wat die stad gemaak het nie,
julle het Hom wat dit lank gelede gestig het, nie gehoorsaam nie.
12Daardie dag sal die Here my God, die Almagtige, julle roep om te huil en te treur,
om julle koppe kaal te skeer en om rouklere aan te trek.
13Maar nou is julle nog vrolik en plesierig,
julle slag beeste en kleinvee, julle eet vleis en julle drink wyn, julle sê:
“Laat ons eet en drink, want môre is ons dood.”
14Die Here die Almagtige
het aan my bekend gemaak:
Hierdie sonde sal julle
tot die dag van julle dood toe
nie vergewe word nie.
Dit het die Here my God, die Almagtige, gesê.
'n Waarskuwing aan Sebna
15Die Here my God, die Almagtige, het vir my gesê: Gaan na daardie hoë amptenaar, na Sebna toe, wat in beheer is van die paleis, en sê vir hom:
16Wat maak jy hier? Wie dink jy is jy dat jy hier vir jou 'n graf bou, 'n graf hier teen die hoogte soos dié van 'n koning, soos een wat vir hom 'n blyplek in die rots gereed maak? 17Die Here sal jou weggooi, Hy sal jou ver weggooi, jou verwaande vent, en jou behoorlik toepak! 18Hy sal jou styf toerol soos 'n mens 'n mummie toerol en jou weggooi in 'n groot land. Dáár sal jy sterf, daar by jou strydwaens waarmee jy so spog, jy wat 'n skande is vir jou koning! 19Die Here sal jou uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is.
20Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here, 21Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hý sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda 'n vader wees. 22Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie. 23Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos 'n spyker wat goed ingeslaan is, in sy amp sal hy die trots van sy hele familie word. 24Maar wanneer die trots van sy hele familie, sy nageslag en sy veraf familie, selfs van die geringes onder hulle, aan hom hang soos kombuisgereedskap aan 'n spyker, 25sê die Here die Almagtige, sal die spyker wat goed ingeslaan is, ingee; dit sal afbreek en val, en die vrag wat daaraan gehang het, sal tot niet gaan.
Die Here het dit gesê.