Teen Moab
1'n Uitspraak van die Here teen Moab:
Ar-Moab is oornag verwoes, vernietig.
Kir-Moab is oornag verwoes, vernietig.
2Die inwoners van Dibon gaan na die hoogtes toe om te huil,
die Moabiete treur oor Nebo en Medeba.
Die Moabiete se koppe is kaalgeskeer,
hulle baard is afgesny,
3hulle dra rouklere op die strate,
hulle huil op die dakke en die pleine,
hulle vergaan van verdriet.
4Die mense van Gesbon en Elale skreeu van angs,
dit word tot by Jahas gehoor.
Selfs Moab se soldate skreeu,
hulle moed begeef hulle.
5My hart brand oor Moab.
Sy mense het gevlug tot by Soar,
tot by Eglat-Selisija.
Hulle klim die opdraand na Lugit toe huil-huil uit,
op pad na Goronajim toe skreeu hulle
oor die ramp wat hulle getref het.
6Die water van Nimrim het opgedroog,
die gras het verdor,
die plante het verdwyn,
daar is geen groenigheid meer nie.
7Die Moabiete vat wat hulle gespaar en opgegaar het,
en dra dit oor Wilgerspruit.
8Hulle geroep weerklink deur die hele gebied van Moab,
hulle gehuil word gehoor tot by Eglajim en Beër-Elim.
9Die water van Dibon is vol bloed,
maar Ek sal erger rampe oor hom bring, sê die Here.
Ek laat dié wat uit Moab ontkom het
en dié wat oor is in die land, deur leeus verskeur.