1“Kyk, my oog het dit alles gesien;
my oor het dit gehoor en begryp.
2Wat julle weet, weet ek ook;
ek staan nie vir julle terug nie.
3Maar ek, met die Almagtige
wil ek praat;
die saak wil ek graag
met God beredeneer.
4Julle is egter mense
wat met leuens pleister,
kwaksalwers, julle almal!
5As julle maar doodstil wou bly!
Dit sou vir julle as wysheid geld.
6Luister asseblief na my pleidooi;
op die aanklag van my lippe
moet julle ag slaan.
7Wil julle namens God
onregverdige argumente aanvoer,
namens Hom bedrieglike
argumente aanvoer?
8Wil julle partydig wees vir Hom,
of namens God 'n regstryd voer?
9Sal dit goed afloop as Hy julle
onder kruisverhoor neem?
Of sal julle Hom mislei
soos mens 'n sterfling mislei?
10Hy sal julle beslis teregwys
as julle in die geheim partydig is.
11Sal sy majesteit
julle nie ontstel nie,
die vrees wat Hy inboesem,
julle nie oorval nie?
12Julle stellings is spreuke in die stof;
julle antwoorde word antwoorde van klei!
13“Swyg voor my,
laat ek 'n keer praat!
Laat dan maar oor my kom wat wil.
14Om watter rede neem ek
my eie vlees tussen my tande,
en plaas ek my eie lewe
in die palm van my hand?
15Kyk, Hy kan my doodmaak,
maar ek gaan nie wag nie.
Ek wil net my optrede
in sy teenwoordigheid verdedig.
16Selfs dit sal vir my bevryding bied,
want die godloses kom nie
in sy teenwoordigheid nie.
17Luister aandagtig na my woorde,
laat my uiteensetting
in julle ore klink.
18Kyk tog, ek het die saak
uiteengesit;
ek weet dat ek die reg
aan my kant het.
19Wie is die een
wat geldige argumente
teen my kan aanvoer?
Want dan sou ek swyg en omkom.
20“Net twee dinge moet U
my nie aandoen nie,
dan sal ek vir u teenwoordigheid
nie wegkruip nie:
21U hand, hou dit ver van my,
en u verskrikking,
laat dit my nie ontstel nie.
22Roep maar!
Ek sal myself verdedig.
Of, ek sal praat,
en antwoord U my.
23Hoeveel sondeskuld en sondes het ek?
My oortreding en my sonde,
maak dit aan my bekend!
24Waarom verberg U u gesig
en beskou U my as 'n vyand van U?
25Sal U 'n windverwaaide blaar verskrik,
en 'n droë strooihalm agternasit?
26Ja, bitter dinge
teken U teen my aan;
die sondeskuld van my jeug
maak U my erfdeel.
27U sit my voete in die blok;
U hou al my bewegings dop;
U plaas u merk op my voetsole.
28En so iemand, hy vergaan
soos iets wat verrot,
soos 'n kledingstuk
wat die motte vreet.