1“'n Mens, gebore uit 'n vrou,
se lewensdae is van korte duur
en vol onrus.
2Soos 'n blom kom hy op
en verwelk;
soos 'n skaduwee verdwyn hy
en hou nie stand nie.
3Ja, op so een hou U u oë gerig,
hom betrek U in 'n regsaak met U.
4Wie kan iets reins uit iets onreins
laat voortkom?
Niemand nie!
5As sy lewensdae dan vasgestel is,
die getal van sy maande
by U vasstaan;
as U sy grens bepaal het
wat hy nie kan oorskry nie,
6kyk dan weg van hom af,
sodat hy kan ophou werk,
totdat hy soos 'n dagloner
tevrede is met sy dag.
7Ja, vir 'n boom is daar hoop:
As hy afgekap word,
loop hy weer uit,
sy jong lote hou nie op uitspruit nie.
8Al word sy wortel oud
in die grond,
en al gaan sy stomp dood
in die grond,
9van die reuk van water
spruit hy uit,
maak hy lote soos 'n jong plant.
10Maar 'n man sterf en is magteloos;
'n mens kom om –
en waar is hy dan?
11Water verdwyn uit 'n see,
en 'n rivier droog op en lê uitgedor;
12so gaan lê 'n mens
en staan nie weer op nie.
Tot die hemel nie meer daar is nie,
word hulle nie wakker nie,
word hulle nie wakker gemaak
uit hulle slaap nie.
13“As U my maar in die •doderyk wou wegsteek,
my verberg totdat u toorn bedaar het,
'n vasgestelde tyd vir my bepaal,
en my dan onthou!
14As 'n man sterf, sal hy weer leef?
Al die dae van my dwangarbeid
sou ek wag tot die einde van my skof.
15U sou roep en ek,
ek sou U antwoord;
na u handewerk sou U verlang.
16Alhoewel U nou my treë tel,
sou U nie my sonde dophou nie.
17Verseël in 'n sak
sou my oortreding wees;
U sou my sondeskuld toepleister.
18“Maar 'n berg stort ineen
en verkrummel,
'n rots verskuif uit sy plek;
19water verweer selfs klippe,
stortreën spoel die stof
van die grond weg –
net so laat U 'n sterfling se hoop
tot niet gaan.
20U oorweldig hom vir altyd,
en hy gaan heen;
U verander sy gelaat
en stuur hom weg.
21Sy seuns word vereer,
maar hy weet dit nie;
hulle word verkleineer,
maar hy merk dit nie op nie.
22Sy liggaam ervaar egter pyn,
en hy treur net oor homself.”