1Wie barmhartigheid beoefen,
sal aan sy naaste geld leen,
en hy wie se hand sterk is,
kom die gebooie na.
2Leen aan 'n naaste
in sy tyd van nood,
maar dan ook, betaal 'n naaste
terug op die regte tyd.
3Bevestig jou woord
en wees daaraan getrou,
en jy sal by elke geleentheid
vind wat jy nodig het.
4Baie mense beskou 'n lening
as 'n meevaller,
en hulle maak dit moeilik
vir diegene wat hulle gehelp het.
5Totdat hy dit in ontvangs neem,
sal hy die uitlener se hande soen,
en oor sy naaste se geld
sal hy sy stem verlaag;
maar op die tyd om terug te betaal,
stel hy die tydstip van terugbetaling uit,
en sal hy met ongeërgde woorde
terugbetaal, en die tyd blameer.
6As hy daartoe in staat is,
sal die uitlener nouliks
die helfte terugkry,
en dit as 'n meevaller beskou,
maar indien nie,
is hy van sy geld beroof,
en het hy onnodig van hom 'n vyand gemaak;
met vervloekings en beledigings
sal die uitlener hom terugbetaal,
en in plaas daarvan om uit te leen,
sal hy hom met oneer terugbetaal.
7Baie het geweier om uit te leen –
nie as gevolg van gemeenheid nie,
maar omdat hulle bang was
om onverdiend beroof te word.
8Nietemin, wees geduldig
met 'n arm persoon
en moet hom nie laat wag
vir aalmoese nie.
9Help 'n arm man in nood
ter wille van die gebod,
en volgens sy behoefte
moet jy hom nie met leë hande wegstuur nie.
10Verloor geld ter wille van
'n broer en 'n vriend,
en laat dit nie onder 'n klip
verroes en tot niet gaan nie.
11Gee jou skatte weg
ooreenkomstig die gebooie
van die Allerhoogste,
en dit sal vir jou tot meer
voordeel wees as goud.
12Versamel aalmoese in jou skatkamers,
en dit sal jou bewaar van elke onheil.
13Meer as 'n sterk skild
en meer as 'n swaar spies
sal dit namens jou teen die vyand veg.
14'n Goeie mens sal borg staan
vir sy naaste,
maar hy wat sonder skaamte is,
sal hom versaak.
15Moenie die goedgunstigheid
van iemand wat borg staan,
vergeet nie,
want hy het homself
ter wille van jou gegee.
16'n Sondaar sal die eiendom
van 'n borg vernietig
en 'n ondankbare persoon
sal doelbewus die een
wat hom gered het, versaak.
17Borgskappe het baie mense
wat voorspoedig was, verwoes,
en het hulle rondgeskommel
soos 'n golf van die see.
18Dit het magtige persone
in ballingskap gestuur
en hulle het onder vreemde
nasies gedwaal.
19'n Sondaar sal in die valstrik
van borgskap trap,
en terwyl hy woekerwins najaag,
sal hy in hofsake verval.
20Help jou naaste volgens jou vermoë,
en let op jouself dat jy nie val nie.
21Die basiese behoeftes
van die lewe is water en kos en kleding,
en 'n huis wat naaktheid verberg.
22Beter is die lewe van 'n arme
onder die beskutting van balke
as feestelike kos onder vreemdelinge.
23Wees vergenoeg met tekorte
en oorvloed,
en jy sal nooit die belediging
hoor dat jy 'n bywoner is nie.
24Dit is 'n slegte lewe
om van huis tot huis te trek
en waar jy 'n bywoner is,
nie jou mond te mag oopmaak nie.
25Jy sal mense gasvry ontvang
en drank verskaf sonder dank,
en op die koop toe
sal jy bitter woorde hoor:
26“Kom hierlangs, bywoner,
berei die tafel voor,
en as daar iets in jou hand is,
voed my.
27Gaan weg voor my, bywoner –
ek is 'n persoon van aansien;
my broer kom my as gas besoek,
ek het die huis nodig.”
28Hierdie dinge is swaar
vir 'n gevoelige mens –
kritiek oor vreemdelingskap
en beledigings van 'n geldskieter.