1Wie sy seun liefhet,
sal hom gereeld straf,
sodat hy aan die einde bly sal wees.
2Hy wat sy seun opvoed,
sal oor hom gelukkig wees,
en onder bekendes oor hom spog.
3Hy wat sy seun onderrig,
sal sy vyand jaloers maak,
en voor vriende sal hy oor hom jubel.
4Die vader het gesterf,
maar dit is asof hy
nie doodgegaan het nie,
want hy het iemand agtergelaat
soos hyself.
5In sy lewe het hy gesien
en was hy verheug,
en aan sy einde het hy
nie droefheid ervaar nie.
6Teen vyande het hy
'n wreker agtergelaat,
maar vir vriende een wat hulle
'n guns terugbewys.
7Wie sy seun pamperlang,
sal sy wonde verbind,
en met elke kreet sal sy ingewande ontroer word.
8'n Perd wat nie ingebreek is nie, word steeks,
en 'n seun wat vrye teuels kry,
word onhanteerbaar.
9Bederf 'n kind,
en hy sal jou terroriseer;
speel met hom,
en hy sal jou pyn aandoen.
10Moenie saam met hom lag nie,
sodat julle nie saam ly nie;
aan die einde sal jy op jou tande kners.
11Moet hom nie vrye teuels gee
in sy jeug nie.
12Slaan sy sye terwyl hy jonk is,
sodat hy nie ongehoorsaam is
in sy hardkoppigheid nie.
13Voed jou seun op
en werk saam met hom,
sodat jy nie deur sy skandalige optrede aanstoot neem nie.
14Beter is 'n arm, gesonde mens
wie se gestel sterk is,
as 'n ryke wat in sy liggaam gekasty is.
15Gesondheid en energie is beter as alle goud,
en 'n sterk liggaam
as grenslose rykdom.
16Daar is geen rykdom beter
as 'n gesonde liggaam nie,
en daar is geen vreugde groter
as die vreugde van die hart nie.
17Dood is beter as 'n bitter lewe,
en ewige rus as kroniese siekte.
18Goeie dinge wat op 'n geslote
mond uitgegiet word,
is spysoffers wat op 'n graf
geplaas word.
19Van watter waarde
is 'n offer vir 'n afgod?
Want hy sal tog nie kan ruik of eet nie.
So is hy wat deur die Here
vervolg word.
20Hy wat met die oog sien en sug,
is soos 'n eunug
wat 'n maagd omhels en sug.
21Moenie jou siel bedroef nie,
en moenie jouself met jou eie
raad in die noute bring nie.
22Hartsvreugde is die lewe vir 'n mens,
en uitbundige vreugde
is vir 'n man verlenging van dae.
23Verlei jou siel en troos jou hart,
en verwyder verdriet ver van jou.
Want verdriet het baie mense verwoes,
en daar is geen voordeel daarin nie.
24Jaloesie en woede verkort jou dae,
en voortydig bring sorge
die ouderdom mee.
25Die een met 'n opgewekte
en goeie hart by maaltye
sal homself so versorg met voedsel.