Mordegai se versoek om hulp aan Ester
1 Toe Mordegai agterkom wat aan die gang is, het hy sy klere geskeur en 'n roukleed aangetrek en as oor hom gestrooi. Hy het deur die hoofstraat van die stad gehardloop en aanhoudend hardop geskreeu: “'n Volk wat niks verkeerds gedoen het nie, gaan uitgewis word!” 2 Hy het tot by die poort van die koning gegaan en daar gaan staan, want dit was nie toelaatbaar vir hom om in rouklere en as by die voorhof in te gaan nie. 3 In elke provinsie waar die bevelskrif uitgevaardig is, was daar 'n geskreeu en 'n geweeklaag en groot droefheid onder die Judeërs, en het hulle hulle in rouklere geklee en met as bestrooi.
4 Die persoonlike diensmeisies en die eunugs van die koningin het ingegaan en dit vir haar vertel. Sy was ontsteld toe sy hoor wat gebeur het, en het mense gestuur om Mordegai aan te trek en sy rouklere weg te neem, maar hy kon nie oorreed word nie. 5 Hierop het Ester haar eunug, Hagrateus, wat haar bedien het, ontbied en hom gestuur om vir haar by Mordegai uit te vind wat die juiste toedrag van sake is. 7 En Mordegai het hom ingelig oor wat gebeur het, en oor die belofte wat Haman aan die koning gemaak het van tienduisend talent vir die skatkis, sodat hy die Judeërs om die lewe kon bring. 8 Hy het ook 'n afskrif van die brief wat in Susa uitgevaardig is, waarin hulle dood beveel word, aan hom gegee om aan Ester te toon. Verder het hy vir hom gesê om haar te versoek om in te gaan na die koning en ter wille van die volk om genade te smeek en hom gunstig te stem: “Jy moet ook terugdink aan die dae toe jy 'n nederige bestaan gevoer het en hoe jy deur my grootgemaak is, en hoe Haman, die tweede in bevel naas die koning, teen ons gepraat het om ons om die lewe te bring; roep die Here aan en pleit by die koning ter wille van ons om ons van die dood te red.” 9 En Hagrateus het ingegaan na haar toe en al hierdie woorde vir haar gesê. 10 Toe sê Ester vir Hagrateus: “Gaan na Mordegai en sê vir hom, 11 ‘Al die nasies in die koninkryk weet dat vir enige man of vrou wat ingaan na die koning toe in sy binnehof sonder om ontbied te word, daar geen redding is nie. Maar dié een na wie die koning sy goue septer uitsteek, hy sal gered word. Ek is nie ontbied om na die koning in te gaan nie – dit is al dertig dae!’ ” 12 Hagrateus het alles wat Ester gesê het, aan Mordegai gerapporteer. 13 En Mordegai het vir Hagrateus gesê: “Gaan sê vir haar, ‘Ester, moenie vir jouself sê dat slegs jy in die koninkryk gered sal word, anders as al die Judeërs nie, 14 want as jy in hierdie besondere tyd weier om te luister, sal daar van elders hulp en beskerming vir die Judeërs kom, maar jy en die huis van jou vader sal omkom. Maar wie weet of jy nie met die oog op hierdie besondere tyd koningin geword het nie?’ ” 15 Toe het Ester die een wat na haar gekom het, weggestuur na Mordegai en gesê: 16 “Gaan roep die Judeërs bymekaar wat in Susa is, en vas ter wille van my. Julle moet drie dae lank, dag en nag, nie eet of drink nie; ook ek en my persoonlike diensmeisies sal vas en dan sal ek, teen die wet, ingaan na die koning, selfs al beteken dit my dood.” 17 Mordegai het toe gegaan en alles gedoen wat Ester hom beveel het.
Gebed van Mordegai
1717a Terwyl Mordegai teruggedink het aan alles wat die Here gedoen het, het hy tot die Here gebid en gesê: 1817b “Here, Here, Koning wat oor alles heers! Die ganse skepping is in u mag en daar is niemand wat U kan teenstaan wanneer U Israel wil red nie. 1917c Want U het die hemel en die aarde gemaak en elke wonderlike ding onder die hemel; U is Here van alles en daar is niemand wat hom teen U, die Here, kan verset nie. 2017d U weet alles. U weet, Here, dat ek dit nie uit oormoed of hoogmoed of weens 'n sug na roem gedoen het toe ek geweier het om neer te buig voor die hoogmoedige Haman nie, want ek sou instem om sy voetsole te soen om Israel te red. 2117e Maar ek het dit gedoen om nie die eer van 'n mens bo die eer van God te stel nie; ek sal my nie neerbuig voor enigiemand nie behalwe voor U, my Here; ek sal dit nie uit hoogmoed doen nie. 2217f En nou, Here, God, Koning, God van Abraham, spaar u volk, want hulle kyk na ons om ons uit te wis; hulle het begeer om dié wat u erfdeel van die begin af was, te vernietig. 2317g Moenie u erfdeel, wat U vir Uself losgekoop het uit Egipte, ignoreer nie. 2417h Luister na my gebed en wees u erfdeel genadig en verander ons hartseer in vreugde sodat ons kan lewe en u Naam besing, Here. Moet ook nie die monde vernietig van dié wat U prys nie.”
2517i Die hele Israel het luidkeels uitgeroep, want die dood het hulle in die gesig gestaar.
Gebed van Ester
2617k Ook koningin Ester, in 'n doodstryd gewikkel, het haar toevlug tot die Here geneem. Sy het haar koninklike klere uitgetrek en 'n kleed van benouing en smart aangetrek, en in plaas van kosbare reukolie het sy haar kop met as en mis bedek. Sy het haar liggaam baie verneder, en elke liggaamsdeel wat sy in haar vreugde versier het, het sy nou met haar gekoekte hare bedek. Sy het toe tot die Here, die God van Israel, gebid en gesê: 2717l “My Here, ons Koning, U is die enigste Een. Help my waar ek alleen is en geen hulp behalwe U het nie, want ek onderneem 'n waagstuk. 2817m Ek het van my geboorte af in die stam van my vader nog altyd gehoor dat U, Here, Israel uit al die nasies gekies het, en ons vaders uit al hulle voorvaders, as ewige erfdeel, en dat U vir hulle alles gedoen het wat U beloof het. 2917n Maar nou het ons voor U gesondig en U het ons oorgelewer in die hande van ons vyande omdat ons hulle gode vereer het. U is regverdig, Here. 3017o Maar nou was ons bitter slawerny nie vir hulle voldoende nie, maar hulle het smekend hulle hande op die hande van hulle gode gelê om weg te doen met die eed uit u mond, om u erfenis te verwyder, om die mond te sluit van dié wat U loof, om die heerlikheid van u •tempel en u altaar te blus, 3117p om die mond van die nasies te open, om die deugde van sinlose afgode te besing en ewig eer te bewys aan 'n sterflike koning. 3217q Here, moenie u septer oorgee aan dié wat nie bestaan nie, en laat hulle nie oor ons ondergang spot nie, maar keer hulle raad teen hulle en maak 'n voorbeeld van die een wat dit teen ons begin het. 3317r Dink tog aan ons, Here, maak Uself in hierdie besondere tyd van ons nood bekend, en gee my moed, Koning van die gode en Heerser oor elke mag. 3417s Sit 'n gepaste woord in my mond in die teenwoordigheid van die leeu en verander sy hart na haat vir die een wat teen ons veg, sodat hy en dié wat soos hy dink, ten gronde kan gaan. 3517t Red ons deur u hand en help my waar ek alleen staan en niemand het nie behalwe U, Here. 3617u U dra kennis van alles en U weet dat ek die eerbewyse van die wetteloses haat, en die bed van onbesnedenes en elke vreemdeling verafsku. 3717w U weet dat ek onder dwang verkeer, dat ek die teken van my trotse posisie wat om my kop is, verafsku op die dae wanneer ek in die openbaar verskyn. Ek verafsku dit soos 'n maanddoek, en op die dae wat ek rus, dra ek dit nie. 3817x U diensmeisie het ook nie Haman se maaltyd geëet of die koning se drinkparty geniet of die wyn van plengoffers gedrink nie. 3917y U diensmeisie het van die dag toe haar omstandighede verander het tot nou toe geen vreugde geken nie, behalwe in U, Here, die God van Abraham. 4017z God wat mag het oor alles, luister tog na die stem van mense wat geen hoop meer het nie, en verlos ons uit die hand van die booswigte. Ja, verlos my van my angs.”