Bevelskrif teen die Judeërs
1 Hierna het koning Artaxerxes vir Haman, die seun van Hammedata, van Buga, vereer en bevorder; hy het die belangrikste plek onder al sy Vriende gekry. 2 Almal aan die hof het altyd voor hom gekniel, want so het die koning hulle beveel om te doen, maar Mordegai het nie voor hom gekniel nie. 3 En die mense aan die hof van die koning het vir Mordegai gesê: “Mordegai, waarom is jy ongehoorsaam aan die bevele van die koning?” 4 Elke dag het hulle met hom gepraat, maar hy het nie na hulle geluister nie. Hulle het Haman toe ingelig dat Mordegai die bevele van die koning teenstaan. Mordegai het hulle ingelig dat hy 'n Judeër is. 5 Toe Haman te wete kom dat Mordegai nie voor hom kniel nie, was hy baie kwaad 6 en het hy hom voorgeneem om al die Judeërs in Artaxerxes se koninkryk uit te roei. 7 In die twaalfde jaar van die regering van Artaxerxes het Haman 'n dekreet uitgevaardig en die lot gewerp oor elke dag en elke maand ten einde Mordegai se volk op 'n bepaalde dag uit te wis. Die lot het geval op die veertiende dag van die maand Adar. 8 Hy het toe met koning Artaxerxes gepraat en gesê: “Daar is 'n volk wat verspreid is onder die nasies in u hele koninkryk, en hulle wette verskil van dié van al die nasies, en hulle is ongehoorsaam aan die wette van die koning. Dit is nie in die koning se belang om hulle te verdra nie. 9 As die koning dit goedvind, laat hy 'n dekreet uitvaardig dat hulle vernietig moet word, dan sal ek tienduisend talent silwer in die koning se skatkis inbetaal.” 10 Die koning het toe sy seëlring afgehaal en dit in Haman se hand gegee om die dekreet wat teen die Judeërs geskryf is, te verseël. 11 En die koning het vir Haman gesê: “Hou jou geld; maak met die volk wat jy wil.”
12 Die sekretarisse van die koning is op die dertiende dag van die eerste maand ontbied en het, soos Haman beveel het, geskryf aan die bevelvoerders en die hoë amptenare in elke provinsie vanaf Indië tot Ethiopië. Daar was honderd sewe-en-twintig provinsies en hy het aan die nasies se hoë amptenare in hulle eie taal geskryf in die naam van Artaxerxes, die koning. 13 Dit is met boodskappers deur die hele koninkryk van Artaxerxes gestuur dat die Judese volk op 'n gegewe dag van die twaalfde maand, die maand Adar, uitgewis en hulle besittings gebuit moes word.
Weergawe van die brief
1413a Hier volg 'n afskrif van die brief:
“Artaxerxes, die groot koning, skryf die volgende aan die hoë amptenare van die honderd sewe-en-twintig provinsies, van Indië tot Ethiopië, en die plaaslike amptenare onder hulle gesag:
1513b “Nadat ek regeerder oor baie nasies en heerser oor die hele wêreld geword het – nie hoogmoedig weens trots oor my mag nie, maar redelik en welwillend in my optrede – het ek besluit om die lewens van my onderdane altyd kalm en vredevol te maak, en om die vrede wat deur alle mense begeer word, te herstel ten einde my koninkryk vreedsaam en veilig te maak om in te reis tot by sy grense. 1613c Toe ek my raadgewers vra op watter manier dit verwesenlik kon word, het Haman, wat by ons uitmunt in sy goeie oordeel en bekend is vir sy volgehoue welwillendheid en onwankelbare trou, en die tweede ereplek in die koninkryk inneem, 1713d ons aandag daarop gevestig dat daar onder al die stamme in die koninkryk 'n vyandige volk verstrooi is wat in hulle wette gekant is teen elke nasie en die bevele van die konings aanhoudend ignoreer, met die gevolg dat die verenigde regering waarna ons op eerbare wyse streef, nie gevestig kan word nie.
1813e “Ons verstaan dat hierdie volk, en net hulle alleen, aanhoudend in volledige verset teen almal is, dat hulle die wette ontwyk deur hulle vreemde leefwyse, kwaadgesind is teenoor ons regering en die ernstigste misdade pleeg, sodat die koninkryk nie stabiliteit kan bereik nie. 1913f Ons het dus opdrag gegee dat diegene wat vir julle aangedui word in die skrywe van Haman, wat oor ons sake aangestel is en ons tweede vader is, almal, saam met hulle vroue en kinders, met wortel en tak uitgeroei moet word met die swaarde van hulle vyande, sonder enige jammerte en sonder dat iemand gespaar word, op die veertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, van die huidige jaar, 2013g sodat dié wat lank reeds en ook nou vyandig is, op 'n bepaalde dag met geweld kan afgaan na Hades, en so ons regering daarna volkome stabiel en rustig laat.”
14 In elke provinsie is afskrifte van hierdie brief uitgevaardig versprei en al die nasies is opdrag gegee om gereed te wees vir daardie dag. 15 Ook in Susa is geen tyd verspil met die saak nie. Maar terwyl die koning en Haman partytjie gehou het, het die stad in rep en roer geraak.