1“Here, Almagtige God van Israel, 'n siel in benoudheid en 'n beangste gees roep tot U! 2Hoor tog, o Here, en betoon ontferming, want ons het teen U gesondig. 3Want U regeer vir ewig, maar ons vergaan vir ewig. 4Here, Almagtige God van Israel, hoor tog die gebed van die gestorwenes van Israel en van hulle kinders wat voortdurend teen U sondig en nie na die stem van die Here hulle God geluister het nie. Die kwaad kleef ons aan. 5Moenie die ongeregtighede van ons vaders onthou nie, maar onthou eerder u mag en u Naam in hierdie krisistyd. 6Want U is die Here ons God en ons sal U prys, o Here! 7Want daarom het U ontsag vir U op ons harte gelê, sodat ons u Naam kan aanroep. Ons sal U in ons ballingskap prys, want ons het elke ongeregtigheid van ons vaders, wat teen U gesondig het, van ons harte weggekeer. 8Kyk, ons is vandag in die plek van ons ballingskap waarheen U ons verstrooi het tot smaad en tot vervloeking en tot straf, ooreenkomstig al die ongeregtighede van ons vaders – hulle wat afvallig van die Here ons God geraak het.”
Lied van Wysheid
9Luister, Israel,
na die gebooie van die lewe;
gee gehoor daaraan
sodat julle insig kan verwerf.
10Waarom is dit dan, o Israel,
waarom is dit dat jy in die land
van die vyand is,
jy oud geword het
in 'n vreemde land,
11jy verontreinig is deur die dooies,
jy saam met dié in Hades gereken is?
12Jy het die bron van die wysheid
verlaat.
13As jy die weg van God gevolg het,
sou jy vir ewig in vrede geleef het.
14Leer waar insig is,
waar sterkte is,
waar begrip is,
sodat jy terselfdertyd kan weet
waar daar lengte van dae is en lewe,
waar daar lig vir die oë is en vrede.
15Wie het haar plek gevind
en wie het haar skatkamers binnegegaan?
16Waar is die hoë amptenare
van die heidennasies,
waar is die heersers
oor die wilde diere op aarde –
17hulle wat hulle tyd verdryf met voëls,
en wat silwer en goud as skat versamel
waarop mense vertrou?
Daar is geen einde
aan hulle besittings nie,
18hulle wat die silwer kunstig
bewerk en daaroor besorg is,
maar daar is geen spoor
van hulle handewerk nie.
19Hulle het verdwyn
en in Hades neergedaal,
maar ander het in hulle plek opgestaan.
20Jongmense het die lig gesien
en op die aarde kom woon,
maar die weg van kennis
het hulle nie leer ken nie –
21haar paaie het hulle nie verstaan nie
en 'n greep op Wysheid
het hulle nie gekry nie.
Hulle kinders het die pad byster geraak.
22Sy is nóg in Kanaän gehoor,
nóg in Teman gesien.
23Ook het die kinders van Hagar,
wat begrip op aarde gesoek het,
die handelaars van Merran en Teman,
die vertellers van stories
en die soekers na begrip,
nie die weg van Wysheid leer ken nie
en nie haar paaie onthou nie.
24O Israel, hoe groot
is die huis van God
en hoe uitgestrek die gebied
van sy eiendom.
25Dit is groot en het geen einde nie;
dit is hoog en onmeetlik.
26Daar is die reuse gebore,
die beroemdes van die begin af –
hulle het reusagtig groot geword,
hulle was kenners van die oorlog.
27God het hulle egter nie uitgekies nie,
ook die weg van kennis
nie vir hulle gegee nie.
28Hulle het toe omgekom
vanweë hulle gebrek aan insig;
hulle het omgekom
vanweë hulle onkunde.
29Wie het in die hemel opgeklim
en haar geneem,
haar uit die wolke afgebring?
30Wie het na die oorkant
van die see gegaan en haar gevind,
en wie sal haar
vir uitgesoekte goud bekom?
31Daar is nie een wat haar weg
ken nie,
ook nie een wat oor haar pad
nadink nie;
32maar die Een wat alles weet,
ken haar;
met sy verstand het Hy haar gevind,
dié Een wat die aarde
vir ewig gevorm het;
Hy het dit met viervoetige diere gevul.
33Hy wat die lig uitstuur en dit gaan,
Hy het dit geroep
en dit het Hom bewend gehoorsaam.
34Die sterre het in hulle wagbeurte geskyn
en was vol vreugde.
35Hy het hulle geroep
en hulle het gesê:
“Hier is ons!”
Hulle het vol vreugde geskyn
vir hulle Skepper.
36Hy is ons God;
niemand kan met Hom
vergelyk word nie.
37Hy het elke weg van kennis gevind
en Hy het haar vir sy dienskneg
Jakob en vir Israel,
sy geliefde, gegee.
38Daarna het sy op aarde verskyn
en saam met die mense geleef.