1“ ‘Die Here het sy woord gehou wat Hy oor ons uitgespreek het – oor ons regters wat reg gespreek het oor Israel, oor ons konings, oor ons hoë amptenare en oor die mense van Israel en Juda. 2Onder die ganse hemel is niks gedoen soos Hy in Jerusalem gedoen het nie – ooreenkomstig dit wat opgeteken staan in die Wet van Moses: 3dat ons sou eet, die een persoon die vleis van sy seun, die ander persoon die vleis van sy dogter. 4Hy het hulle as onderdruktes aan al ons omringende koninkryke oorgegee om verag te word en verlate te wees onder al die omringende volke waarheen die Here hulle verstrooi het. 5Ons is onderwerp en nie verhef nie, want ons het teen die Here ons God gesondig deurdat ons na sy stem nie geluister het nie. 6Aan die Here ons God behoort die geregtigheid, maar die skande behoort vandag aan ons en aan ons vaders – 7dit wat die Here oor ons uitgespreek het, al daardie slegte dinge het oor ons gekom. 8Ook het ons ons nie in gebed tot die aangesig van die Here gewend sodat elkeen terug kon draai van die gedagtes van sy bose hart nie. 9Maar die Here het die kwaad in gedagte gehou en die Here het dit oor ons laat kom, omdat die Here regverdig is in al sy opdragte wat Hy ons gegee het. 10Ook het ons nie na sy stem geluister deur die voorskrifte van die Here na te kom wat Hy persoonlik aan ons gegee het nie.’ ”
11“ ‘En nou, Here, God van Israel, U wat u volk uit Egipte uitgelei het met 'n kragtige hand, met tekens en wonders, met groot krag en met 'n verhewe arm – U het vir U 'n Naam tot op hierdie dag gemaak. 12Ons het gesondig wat al u voorskrifte betref: Ons het goddeloos opgetree, ons het onreg gepleeg, Here ons God. 13Keer tog u woede van ons weg, want min van ons het oorgebly tussen die heidennasies onder wie U ons verstrooi het. 14Luister, o Here, na ons gebed, na ons smeekgebed! Bevry ons ter wille van Uself! Gee vir ons genade by diegene wat ons weggevoer het, 15sodat die hele aarde kan weet dat U, Here, ons God is, dat u Naam oor Israel en sy nageslag uitgeroep is. 16O Here, kyk vanuit u heilige woning af en dink aan ons! Here, draai u oor na ons en luister! 17O Here, open u oë en kyk, want die dooies wat in Hades is, hulle wie se gees van hulle ingewande verwyder is, hulle sal nie eer en reg aan die Here laat toekom nie. 18Maar 'n diepbedroefde mens wat krom loop, swak is, verswakte oë het en 'n honger mens is, sal aan U eer en geregtigheid laat toekom, Here. 19Die regverdige dade van ons voorouers en ons konings is immers nie die rede waarom ons ons pleidooi om medelye voor u aangesig neerwerp nie, 20want U het u woede en u toorn oor ons gestuur, soos wat U deur u dienaars, die profete, gesê het: 21“So het die Here gesê, ‘Buig julle skouers en werk vir die koning van Babilonië en woon daarna in die land wat Ek vir julle vaders gegee het. 22Maar as julle nie na die stem van die Here luister deur te werk vir die koning van Babilonië nie, 23sal Ek sorg dat die stem van blydskap en van vreugde, van 'n bruidegom en 'n bruid, in die stede van Juda en buite Jerusalem tot 'n einde kom en sal die hele land onbewoonbaar wees vir hulle wat daarin woon.’ ” 24Maar toe ons u stem nie gehoorsaam het om vir die koning van Babilonië te werk nie, het U u woorde bevestig wat U deur u dienaars, die profete, gespreek het, dat die beendere van ons konings en die beendere van ons vaders uit hulle rusplek gehaal moet word. 25En kyk, dit is so dat hulle aan die hitte van die dag en die ryp van die nag blootgestel is. Hulle het 'n pynlike dood gesterf deur honger, die swaard en die pes. 26Toe het U die huis waaroor u Naam uitgeroep is, gemaak soos dit tot op hierdie dag is – weens die boosheid van die huis van Israel en van Juda. 27Tog het U teenoor ons opgetree, o Here ons God, in ooreenstemming met al u deernis, al u groot medelye, 28soos U deur u dienaar Moses gesê het op die dag toe U hom beveel het om u Wet voor die Israeliete neer te skryf: 29“As julle nie my stem gehoorsaam nie, sal hierdie baie groot en rumoerige skare verander in 'n klein groepie onder die heidennasies waarheen Ek hulle sal verstrooi – 30omdat Ek weet dat hulle My beslis nie sal gehoorsaam nie, omdat hulle 'n halsstarrige volk is. Maar in die land van hulle ballingskap sal hulle tot hulle sinne kom. 31Hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is. Ek sal vir hulle 'n hart gee wat verstaan en ore wat luister. 32Hulle sal My in die land van hulle ballingskap prys en hulle sal my Naam onthou. 33Hulle sal wegdraai van hulle hardkoppigheid en van hulle bose dade, want hulle sal die weg van hulle vaders onthou wat teen die Here gesondig het. 34Dan sal Ek hulle in die land terugbring wat Ek met 'n eed aan hulle vaders beloof het, aan Abraham, aan Isak en aan Jakob, en hulle sal daaroor heers. Ek sal hulle vermeerder en hulle sal hoegenaamd nie minder word nie. 35Ek sal met hulle 'n ewige verbond sluit om vir hulle 'n God te wees en hulle sal vir My 'n volk wees. Ek sal nie langer my volk Israel uit die land wat Ek aan hulle gegee het, verwyder nie.”