Heidense kultus in Jerusalem
1Nie lank daarna nie het die koning 'n ou Atheense man gestuur om die Judeërs te dwing om af te sien van die wette van hulle voorvaders en om nie meer volgens die wette van God te leef nie, 2en ook om die •tempel in Jerusalem te ontheilig en dit die tempel van Zeus Olimpus te noem. Die tempel in Geresim moes hulle Zeus Xenius noem, net soos die mense wat die plek bewoon het, versoek het. 3En hierdie bose aanslag was vir almal moeilik en heeltemal ondraaglik. 4Want die tempel is gevul met losbandigheid en orgies deur die heidennasies, wat plesier gevind het in prostitute en binne die heilige ringmure met vroue gemeenskap gehad het, en boonop onvanpaste goed ingedra het. 5Die altaar is met walglike dinge volgepak wat deur die wette verbied is. 6Daarom was dit nie moontlik om die Sabbat te onderhou, die voorvaderlike feeste te vier, of selfs te erken dat mens 'n Judeër is nie. 7Onder bittere dwang is hulle elke maand op die verjaarsdag van die koning verplig om deel te neem aan die heidense offerandes van die binnegoed van diere. Wanneer 'n fees van Dionisus aangebreek het, is hulle verplig om met kranse van klimopplante aan die prosessie van Dionisus deel te neem. 8Op 'n voorstel van Ptolemeus het 'n dekreet uitgegaan na die naburige Griekse stede om dieselfde beleid teenoor die Judeërs te aanvaar, naamlik om die binnegoed van diere wat geoffer is, te eet, 9en om dié wat kies om nie die Griekse leefwyse te aanvaar nie, uit te moor. Die ellende wat geheers het, was oral waarneembaar. 10Want twee vroue is gearresteer omdat hulle hulle kinders laat besny het; hulle het die babas aan hulle borste gehang, hulle in die openbaar in die stad rondgelei en toe by die stadsmuur afgegooi. 11Ander manne weer, wat in nabygeleë grotte bymekaargekom het om die sewende dag in die geheim te vier, is aan Filippus uitgelewer. Uit eerbied vir die allerheiligste dag het hulle hulle nie verdedig nie, en is hulle saam verbrand.
Lyding van die inwoners van Juda
12Nou versoek ek die lesers van hierdie boek dringend om nie ontmoedig te word deur die rampe nie, maar om te besef dat straf nie daar is om te vernietig nie, maar om ons mense te onderrig. 13Want dit is inderdaad 'n teken van groot welwillendheid om nie goddeloses vir te lank toe te laat om hulle gang te gaan nie, maar om dié wat straf verdien, onmiddellik te straf. 14Want dit is met ons nie soos in die geval van die ander volke nie, waar die Here geduldig wag totdat hulle die volle maat van hul sondes bereik het voordat Hy hulle straf. In ons geval het Hy egter nie so besluit nie, 15sodat Hy Hom nie later op ons sou wreek wanneer ons sondes 'n hoogtepunt bereik het nie. 16Daarom onttrek Hy nooit sy barmhartigheid aan ons nie, en alhoewel Hy ons deur terugslae dissiplineer, laat Hy nooit sy eie volk in die steek nie. 17Laat hierdie dinge vir ons gesê word om ons daaraan te herinner, maar ons gaan kortliks voort met die verhaal.
Verhaal van Eleasar
18'n Sekere Eleasar, een van die mees vooraanstaande skrifkenners, reeds van gevorderde leeftyd, en uiters aantreklik, is gedwing om sy mond oop te maak en varkvleis te eet. 19Maar hy het 'n eervolle dood bo 'n •onrein lewe verkies, en nadat hy die vleis uitgespoeg het, uit sy eie na die folterbank geloop, 20soos gepas is vir mense wat volhardend weier om ongeoorloofde voedsel te eet – dit ten spyte van hulle natuurlike drang om te bly leef. 21En die mense wat in beheer was van die offers van binnegoed, iets wat teen die Wet was, het die man, omdat hulle hom lank reeds geken het, eenkant geneem en hom gesmeek om self vleis te bring wat hy mag eet. Dit moes deur hom voorberei wees, en hy moes voorgee dat hy die vleis van die •brandoffers eet wat deur die koning beveel is, 22sodat hy sodoende die dood sou vryspring en weens sy lang vriendskap met hulle menswaardig behandel sou word. 23Maar hy het 'n edel besluit geneem wat pas by sy jare, die waardigheid van sy hoë ouderdom, die sigbare grys hare wat hy verwerf het, en sy onberispelike lewe van sy kinderjare af wat in ooreenstemming met die heilige en Godgegewe wet is. Hy het dadelik gesê dat hulle hom maar na Hades moes stuur. 24Want hy het gesê: “Dit pas nie by ons ouderdom om te veins nie, sodat baie van die jong manne dalk kan dink dat Eleasar op die ouderdom van negentig jaar vreemde gebruike aangeneem het 25en dat hulle, deur my skynheiligheid, en ter wille van 'n kort en vervlietende lewe, verlei sou word en ek op my hoë ouderdom besoedel en bevlek word. 26Want selfs as ek vir die hede die straf van mense vryspring, sal ek nie lewend of dood die hande van die Almagtige ontvlug nie. 27Daarom, deur my lewe nou dapper prys te gee, sal dit duidelik wees dat ek my ouderdom waardig is. 28Dan sal ek 'n edele voorbeeld vir die jonges nagelaat het deur gewillig en eervol 'n goeie dood te sterf vir die waardige en heilige wette.” Nadat hy hierdie dinge gesê het, het hy dadelik na die folterbank gegaan. 29Maar die mense wat kort tevore nog goedgesind teenoor hom opgetree het, het vyandig geword omdat sy voorafgaande woorde na hulle mening waansin was. 30Toe hy op die punt was om te sterf van die houe, het hy gekreun en gesê: “Aan die Here is dit in sy heilige wysheid bekend dat, alhoewel ek die dood kon ontsnap het, ek liggaamlik die vreeslikste pyn verduur terwyl ek geslaan word, maar dat ek dit in my siel graag verduur uit ontsag vir Hom.” 31So het hy dan gesterf, en deur sy dood, nie alleen vir die jonges nie, maar vir die meeste van sy volk 'n voorbeeld van edelheid en deug nagelaat.