1Ongeveer in hierdie tyd het Antiogus die tweede veldtog teen Egipte van stapel gestuur. 2En dit het deur die hele stad gebeur dat daar vir byna veertig dae verskynings van perderuiters was wat met goue klere aan deur die lug gejaag het, in kohorte soldate, en met lanse en ontblote swaarde bewapen. 3Daar was ook groepe perderuiters wat opgestel is, en aanvalle en teenaanvalle wat deur elke groep geloods is met 'n geswaai van skilde en 'n menigte steekspiese en die gooi van werpspiese, te midde van die flikkering van goue versiersels en harnasse van allerhande soorte. 4Daarom het almal gebid dat die verskyning ten goede sou wees. 5Toe 'n valse gerug die rondte doen dat Antiogus die lewe met die dood verwissel het, het Jason nie minder nie as duisend man geneem en skielik 'n aanval op die stad geloods. Diegene op die mure is teruggedryf en toe die stad uiteindelik ingeneem is, het Menelaus weggevlug na die bergvesting. 6Maar Jason het sy medeburgers genadeloos bly afmaai, omdat hy nie besef het dat sukses teen jou landgenote die grootste mislukking is nie, en hy gedink het dat hy tekens van triomf oor die vyand oprig eerder as oor medeburgers. 7Hy het egter nie die gesag in die hande gekry nie. Op die ou end het hy in die skande gekom oor die sameswering en weer weggevlug na die land van die Ammoniete. 8Hy het uiteindelik 'n ellendige einde gehad. Hy is voor Aretas, die regeerder van die Arabiere, aangekla, het van stad tot stad gevlug, is deur almal agtervolg, is gehaat as 'n rebel teen die wette en verfoei as laksman van sy vaderland en medeburgers, en is na Egipte verjaag. 9En hy, wat baie mense uit hulle vaderland verban het, het in 'n vreemde land gesterf, nadat hy aan boord gegaan het om na die Spartane te gaan om beskerming te soek op grond van hulle verwantskap. 10Oor hom, wat 'n menigte lyke uitgegooi het om onbegrawe te lê, is nie gerou nie. Hy het ook hoegenaamd nie 'n begrafnis, of 'n plek in die graf van sy voorvaders gehad nie.
11Toe die koning hoor wat gebeur het, het hy gedink dat Juda in opstand gekom het. Daarom het hy, vol woede, soos 'n wilde dier, Egipte verlaat en die stad met wapengeweld verower. 12En hy het sy soldate beveel om dié wat hulle teëkom, af te maai sonder om iemand te spaar en om dié wat na hulle huise teruggaan, uit te moor. 13Daar was toe 'n slagting van jonk en oud, 'n uitwissing van jonges en vroue en kinders, en 'n uitmoor van jongmeisies en babas. 14Tagtigduisend mense is ná drie volle dae afgemaai – veertigduisend in handgevegte – en ten minste soveel as wat vermoor is, is verkoop. 15En nie hiermee tevrede nie, het hy dit gewaag om in die heiligste •tempel op die hele aarde in te gaan met Menelaus as gids, wat 'n verraaier was van sowel die wette as die vaderland. 16Met sy besmette hande het hy die heilige voorwerpe geneem en die bybehore wat deur ander konings tot verhoging van die glorie en eer van die plek geskenk is, met sy besoedelde hande weggesleep. 17Toe het Antiogus in sy geesdrif nie besef dat die Here net vir 'n klein tydjie kwaad was weens die sondes van die inwoners van die stad nie, en daarom die plek oor die hoof gesien het. 18Want as dit nie gebeur het dat die stad by so baie sondes betrokke was nie, sou hierdie man onmiddellik nadat hy ingegaan het, gegesel en van sy vermetelheid genees gewees het, soos Heliodorus, wat deur koning Seleukus gestuur is om die skatkamer te inspekteer. 19Die Here het egter nie die volk gekies ter wille van die plek nie, maar die plek ter wille van die volk. 20Daarom het ook die plek self gedeel in die rampe wat oor die stamme gekom het, en later aan hulle voorspoed deel gehad. Die plek wat tydens die woede van die Almagtige verlaat is, is weer in al sy glorie herstel deur die versoening van die grote Here. 21Nadat Antiogus agttienhonderd talent uit die tempel weggedra het, het hy vinnig na Antiogië vertrek. Hy het in sy arrogansie en die hoogmoed van sy hart gedink dat hy op die land kan vaar en op die see kan loop. 22Hy het goewerneurs agtergelaat om die volk te verdruk: in Jerusalem vir Filippus, 'n Frigiër van geboorte en met 'n meer barbaarse geaardheid as die een wat hom aangestel het; 23in Geresim vir Andronikus, en behalwe hulle vir Menelaus, wat hom baie meer as die ander oor die burgers verhef het en 'n vyandige gesindheid teenoor die Joodse burgers gekoester het. 24Toe het Antiogus vir Apollonius, die bevelvoerder van die Musiese troepe, met 'n leër van twee-en-twintigduisend gestuur met die opdrag om al die volwasse mans om die lewe te bring en om die vroue en jong seuns te verkoop. 25En nadat hy in Jerusalem aangekom en hom vredeliewend voorgedoen het, het hy tot die heilige Sabbatdag gewag, en toe hy die Judeërs aantref terwyl hulle nie werk nie, het hy diegene saam met hom beveel om in volle wapenrusting te paradeer. 26Almal wat uitgekom het na die skouspel, het hy laat doodsteek en saam met die gewapendes in die stad ingehardloop en 'n groot menigte mense uitgemoor. 27Maar Judas Makkabeus en ongeveer nege ander het na die wildernis ontsnap. Daar het hy en sy manne soos wilde diere in die berge geleef, en hulle het plantaardige voedsel bly eet om nie •onrein te word nie.