Verdrag met Demetrius
1In die honderd-en-sestigste jaar het Aleksander Epifanes, die seun van Antiogus, opgetrek en Ptolemaïs ingeneem. Die inwoners het hom aanvaar en hy het daar regeer. 2Toe koning Demetrius dit hoor, het hy baie groot leërmagte op die been gebring en hom tegemoetgegaan om teen hom oorlog te voer. 3Demetrius het aan Jonatan briewe met vriendelike woorde gestuur om hom te prys. 4Want hy het gesê: “Laat ons eers met hom vrede sluit voordat hy met Aleksander vrede teen ons sluit, 5want hy sal al die kwaad onthou wat ons hom, sy broers en sy volk aangedoen het.” 6Hy het aan hom volmag gegee om leërmagte op die been te bring en hulle met wapens toe te rus en sy bondgenoot te wees; hy het hom ook beveel om die gyselaars wat in die vesting was, aan hom oor te lewer.
7Jonatan gaan toe na Jerusalem en lees die briewe ten aanhore van die hele volk en die mense in die vesting. 8Hulle het baie bang geword toe hulle hoor dat die koning vir hom volmag gegee het om 'n leërmag op die been te bring. 9Die mense in die vesting het die gyselaars aan Jonatan oorgelewer en hy het hulle aan hulle ouers terugbesorg.
10Jonatan het in Jerusalem gaan woon en begin om die stad op te bou en te herstel. 11Hy het werkers opdrag gegee om die mure te bou en die berg Sion te omring met vierkantige klippe om te dien as vesting, en hulle het so gemaak. 12Die uitlanders wat in die vestings was wat Bakgides gebou het, het gevlug. 13Elkeen het sy plek verlaat en na sy eie land teruggegaan. 14Maar sommige van dié wat die Wet en die voorskrifte laat vaar het, het in Bet-Sur agtergebly, want dit was vir hulle 'n toevlugsoord.
Aanstelling van Jonatan as hoëpriester
15Koning Aleksander het gehoor van al die beloftes wat Demetrius na Jonatan gestuur het, en hulle het hom vertel van die oorloë wat Jonatan en sy broers gevoer het en van hulle dapper optrede, asook die swaarkry wat hulle verduur het. 16Die koning het gesê: “Sal ons nog so 'n man vind? Stellig nie. Ons moet hom dadelik ons Vriend en bondgenoot maak.”
17Hy het briewe met die volgende woorde geskryf en aan hom gestuur:
18“Koning Aleksander
aan sy broer Jonatan:
Gegroet!
19“Ons het gehoor dat u 'n baie magtige man is, en dat u geskik is om ons Vriend te wees. 20En nou stel ons u vandag as hoëpriester van u volk aan om Vriend van die Koning genoem te word asook om na ons belange om te sien en vriendskap met ons te handhaaf.”
Hy het ook vir hom 'n purperkleed en 'n goue kroon gestuur.
21Jonatan het die heilige lang stola tydens die Huttefees in die sewende maand van die honderd-en-sestigste jaar aangetrek, en hy het leërmagte op die been gebring en met baie wapens toegerus.
Demetrius se brief aan Jonatan
22Demetrius het hierdie berigte gehoor en was bedroef. Hy het gesê: 23“Wat het ons gedoen dat Aleksander ons voorgespring het deur vriendskap te sluit met die Judeërs sodat hy versterk kan word? 24Ek sal ook vir hulle woorde van aanmoediging skryf en vir hulle aansien en geskenke belowe, sodat hulle my tot hulp kan wees.” 25Hy het 'n brief met die volgende woorde vir hulle gestuur:
“Koning Demetrius
aan die volk van die Judeërs:
Gegroet!
26“Toe ons hoor dat julle julle aan die ooreenkomste met ons gehou het, aan ons vriendskap trou gebly en nie by ons vyande aangesluit het nie, was ons verheug. 27En nou, hou aan om getrou aan ons te wees, en ons sal julle met goeie dinge beloon vir wat julle vir ons gedoen het. 28Ons sal julle van baie belastings vrystel en vir julle geskenke gee. 29Nou onthef ek julle en stel ek alle Judeërs vry van algemene belasting, asook van soutbelasting en kroonbelasting. 30En in plaas van om 'n derde van die saad en die helfte van die vrugte van die bome, wat my toekom, te neem, hou ek van vandag af en hierna, op om dit te neem van die land van Juda en die drie distrikte wat uit Samaria en Galilea daarby gevoeg is – van vandag af en vir altyd. 31Laat Jerusalem en sy omliggende gebied heilig wees en vry van tiendes en tolgeld.
32“Ek doen ook afstand van die mag oor die vesting in Jerusalem en gee dit aan die hoëpriester, sodat hy manne wat hy self uitgekies het, daarin kan plaas om dit te bewaak. 33Ek laat elke Judeër wat in die land Juda gevange geneem en weggevoer is na enige deel van my koninkryk, sonder 'n losprys vry. Al die amptenare moet ook hierdie mense van belasting op hulle vee kwytskeld. 34Al die feesdae, Sabbatdae, nuwemaansfeeste en dae wat vasgestel is – die drie dae voor 'n fees en drie dae ná 'n fees – moet almal belastingvrye dae en dae van kwytskelding wees vir al die Judeërs in my koninkryk. 35Niemand sal die reg hê om in dié dae iets van hulle te eis of enigeen van hulle oor enige saak lastig te val nie.
36“Ongeveer dertigduisend mans van die Judeërs moet as lid van die koning se leërmagte ingeskryf word; vir hulle sal ook soldy gegee word, soos wat al die koning se leërmagte toekom. 37Van hulle sal in die koning se groot vestings geplaas word en ander van hulle sal geplaas word in verantwoordelike posisies in die koninkryk. Hulle bevelvoerders en leiers sal uit hulle eie geledere kom. Hulle sal volgens hulle eie wette leef, soos die koning ook in die land van Juda beveel het.
38“Die drie distrikte wat uit die land van Samaria by Juda gevoeg is, moet vir Juda só bygevoeg word dat dit gereken word as dat dit onder die gesag van een persoon staan en geen ander gesag gehoorsaam as dié van die hoëpriester nie. 39Ptolemaïs en die gebied wat daaraan behoort, gee ek vir die heiligdom in Jerusalem as geskenk vir die uitgawes wat nodig is vir die heiligdom. 40Ek gee ook jaarliks vyftienduisend sikkel silwer uit die koning se rekenings uit geskikte oorde. 41Al die ekstra fondse vir die tempeldiens wat die amptenare nie inbetaal het soos in die eerste jare nie, moet hulle van nou af vir die tempeldienste gee. 42Hierbenewens ook die vyfduisend sikkel silwer wat hulle jaarliks uit die rekening vir die tempeldienste geneem het – ook dit word kwytgeskeld, want dit behoort aan die priesters wat liturgiese diens doen. 43Almal wat na die tempelterrein in Jerusalem gevlug het en in al sy omliggende gebiede is, wat die koning geld skuld of enige ander skuld het, moet vrygestel word en alles in my koninkryk ontvang wat aan hulle behoort. 44Die koste van die opbou en die opknap van die bouwerke van die heiligdom sal uit die koning se rekening betaal word. 45Die koste van die bou van Jerusalem se mure en die versterking daaromheen sal ook uit die koning se rekening betaal word, ook die koste van die opbou van die mure in Juda.”
46Toe Jonatan en die volk hierdie woorde hoor, het hulle dit nie geglo of aanvaar nie, want hulle het die groot kwaad wat Demetrius in Israel aangerig het, onthou, asook dat hy hulle erg verdruk het. 47Hulle het Aleksander verkies, want juis hy was die eerste persoon wat woorde van vrede tot hulle gerig het en hulle was altyd sy bondgenote.
48Koning Aleksander het groot leërmagte op die been gebring en teenoor Demetrius kamp opgeslaan. 49Die twee konings het toe die stryd aangeknoop. Demetrius se leërafdeling het gevlug en Aleksander het hom agtervolg en die oorhand oor hulle gekry. 50Hy het tot sonsondergang hewig geveg, en Demetrius het daardie dag gesneuwel.
Vredesooreenkoms tussen Aleksander en Ptolemeus
51Aleksander het toe gesante na Ptolemeus, die koning van Egipte, gestuur met die volgende woorde: 52“Toe ek na my koninkryk teruggekeer het, het ek op die troon van my vaders gaan sit, die regering oorgeneem, Demetrius verpletter en ons land onder my beheer gebring. 53En ek het 'n geveg met hom aangeknoop en hy en sy leërafdeling is deur ons verpletter en ons het op die troon van sy koninkryk gaan sit.
54“Laat ons dan nou 'n vredesooreenkoms met mekaar sluit. Gee vir my nou jou dogter as vrou en ek sal jou skoonseun word en vir jou en haar geskenke gee wat jou waardig is.”
55Koning Ptolemeus het geantwoord: “Dit was 'n goeie dag toe jy teruggekeer het na die land van jou vaders en op die troon van hulle koninkryk gaan sit het. 56Ek sal nou maak soos jy geskryf het, maar ontmoet my in Ptolemaïs, sodat ons mekaar kan sien en ek sal jou skoonvader word, soos jy gesê het.”
57En Ptolemeus het uit Egipte vertrek, hy en sy dogter Cleopatra, en in die honderd-twee-en-sestigste jaar na Ptolemaïs gegaan. 58Koning Aleksander het hom ontmoet en Ptolemeus het sy dogter Cleopatra aan hom gegee. Ptolemeus het haar bruilof met groot vertoon in Ptolemaïs gevier, soos konings maak.
59Koning Aleksander het vir Jonatan geskryf om hom te kom ontmoet. 60Jonatan het met vertoon na Ptolemaïs gegaan en hy het die twee konings ontmoet. Hy het vir hulle en hulle Vriende silwer, goud en baie geskenke gegee en hulle guns gewen. 61Daar het verpestelike mans uit Israel – wettelose mans – teen hom saamgespan om 'n klag teen hom in te dien, maar die koning het nie aandag aan hulle gegee nie. 62Die koning het beveel dat hulle Jonatan se klere uittrek en 'n purperkleed vir hom aantrek, en hulle het toe so gemaak. 63Die koning het hom saam met hom laat sit en vir sy hoë amptenare gesê: “Gaan saam met hom na die middel van die stad en kondig aan dat niemand 'n klag teen hom oor enige saak mag indien nie en dat niemand hom oor enige saak moet lastig val nie.” 64Toe sy aanklaers sien hoe hy in ooreenstemming met die proklamasie geëer word en dat hy in 'n purperkleed geklee was, het hulle almal gevlug. 65Die koning het hom vereer, hom opgeteken as een van sy belangrikste Vriende en hom as generaal en goewerneur aangestel. 66Jonatan het in vrede en met blydskap na Jerusalem teruggekeer.
Oorwinning van Jonatan oor Apollonius
67In die honderd-vyf-en-sestigste jaar het Demetrius, seun van Demetrius, vanuit Kreta na die land van sy vaders gegaan. 68Koning Aleksander het dit gehoor en was diep bedroef. Hy het toe teruggekeer na Antiogië.
69Demetrius het vir Apollonius, die goewerneur van Koile-Sirië, aangestel, en Apollonius het 'n groot leërmag op die been gebring. Hy het by Jamnia kamp opgeslaan en aan Jonatan, die hoëpriester, 'n boodskap gestuur: 70“Jy is die enigste wat teen ons in opstand kom, en ek het as gevolg van jou 'n bespotting en 'n skande geword. Waarom oefen jy in die berge gesag oor ons uit? 71As jy dan nou vertroue het in jou leërmagte, kom af na ons toe in die vlakte en laat ons daar teen mekaar kragte meet, want die stede se leërmag is aan my kant. 72Vra en kom te wete wie ek en wie die res van ons helpers is, en hulle sal vir jou sê dat julle nie teen ons sal kan standhou nie, want jou vaders is twee maal in hulle land op die vlug gejaag. 73Jy sal nou ook nie in staat wees om die perderuiters en so 'n leërmag in die vlakte teen te staan, waar daar geen klip of selfs 'n spoelklippie of 'n plek is om heen te vlug nie.”
74Toe Jonatan die woorde van Apollonius hoor, is hy daardeur aangespoor. Hy het tienduisend man uitgekies en uit Jerusalem vertrek. Sy broer Simon het hom tegemoetgegaan om hom te help. 75Hy het by Joppe kamp opgeslaan, maar die stad se mense het die stadspoorte toegesluit, omdat daar 'n garnisoen van Apollonius in Joppe was. Hulle het teen die stad geveg, 76en die inwoners het uit vrees die stadspoorte oopgemaak en Jonatan het beheer oor Joppe verkry.
77Toe Apollonius dit hoor, het hy drieduisend perderuiters en 'n groot leërmag op die been gebring en na Asdod gegaan asof hy daar wou deurtrek, maar terselfdertyd het hy vorentoe beweeg in die rigting van die vlakte omdat hy 'n groot hoeveelheid perderuiters gehad het op wie hy vertrou het. 78Jonatan het hom tot in Asdod agtervolg en die leërafdelings het 'n geveg aangeknoop. 79Apollonius het in die geheim 'n duisend perderuiters agter hulle geplaas. 80Jonatan het agtergekom dat daar 'n lokval agter hom was – hulle het sy kamp omring en van vroegoggend tot laatmiddag pyle op die volk afgeskiet. 81Die volk het bly staan soos Jonatan beveel het; die vyand se perderuiters het egter moeg geword. 82Simon het sy leërmag nadergebring en die linie aangeval omdat die perderuiters uitgeput was, en hulle is deur hom verpletter en het gevlug. 83Die perderuiters is in die vlakte verstrooi, het na Asdod gevlug en het by Bet-Dagon hulle afgodstempel binnegegaan om gered te word. 84Jonatan het Asdod en die omliggende stede verbrand en geplunder, en die tempel van Dagon en dié wat saam daarheen gevlug het, met vuur verbrand. 85Dié wat deur die swaard geval het, saam met dié wat verbrand is, was ongeveer agtduisend man.
86Jonatan het daarvandaan vertrek en by Askelon kamp opgeslaan. Die inwoners van die stad het uitgegaan om hom met groot eerbetoon te ontmoet. 87Jonatan en diegene saam met hom het met baie oorlogsbuit na Jerusalem teruggekeer. 88Toe koning Aleksander van hierdie gebeure hoor, het hy Jonatan nog meer vereer. 89Hy het ook vir hom 'n goue gespe, soos gewoonlik aan die verwante van konings gegee word, gestuur en hy het Ekron en al sy omliggende gebiede aan hom as eiendom gegee.