Dood van Judas
1Toe Demetrius hoor dat Nikanor en sy leërmag in die oorlog omgekom het, het hy weer, 'n tweede keer, vir Bakgides en Alkimus, en saam met hulle die regterkantste vleuel van die leër, na die land van Juda gestuur. 2Hulle het met die pad na Gilgal gegaan en by Maisalot in Arbelus kamp opgeslaan. Hulle het Maisalot eerste ingeneem en baie mense doodgemaak. 3In die eerste maand van die honderd-twee-en-vyftigste jaar het hulle by Jerusalem kamp opgeslaan. 4Daarna het hulle vertrek en met twintigduisend man en tweeduisend perderuiters na Berea gegaan. 5Judas en drieduisend uitgesoekte manskappe saam met hom het in Elasa kamp opgeslaan. 6Toe Judas se manskappe die getal van die vyand se leërmagte sien, hoe talryk hulle was, het hulle ontsettend bang geword. Baie het uit die kamp verdwyn; afgesien van agthonderd man het daar niemand van hulle agtergebly nie. 7Toe Judas sien dat sy leërafdeling verdwyn het en dat die geveg hom in die noute gebring het, was sy hart swaar, want hy het nie tyd gehad om hulle weer bymekaar te bring nie. 8Hy was moedeloos, maar het vir dié wat oorgebly het, gesê: “Kom ons staan op en trek teen ons vyande op om te sien of ons dalk tog teen hulle kan veg.” 9Hulle het hom probeer ompraat deur te sê: “Ons sal beslis nie kan nie; laat ons eerder nou ons lewens red en dan saam met ons broers terugkeer en teen hulle veg, want ons is min.” 10Maar Judas het gesê: “Mag dit nooit gebeur dat ek so iets sou doen nie – om van hulle weg te vlug! As ons tyd aanbreek, laat ons dan dapper sterf ter wille van ons broers en nie rede gee om ons eer te skend nie.”
11Die leër van Bakgides het van die kamp af vertrek en stelling ingeneem om hulle tegemoet te gaan. Die perderuiters is in twee groepe verdeel, en die slingergooiers en boogskutters, asook al die sterkste voorvegters, het voor die leërmag uit geloop. En Bakgides was in die regtervleuel. 12Die gevegslinie het in twee groepe nader beweeg en aanhoudend op hulle trompette geblaas. Diegene saam met Judas het self ook op trompette geblaas. 13Die aarde het geskud van die geluid van die leërafdelings en die geveg het geduur van die oggend tot die aand.
14Toe Judas sien dat Bakgides en die sterkste deel van die leërafdeling aan die regterkant is, het al die manne met dapper harte by hom bymekaargekom. 15Die regtervleuel is deur hulle verpletter en hy het hulle tot by die berg Azotus agtervolg. 16Toe dié in die linkervleuel sien dat die regtervleuel verpletter is, het hulle omgedraai en Judas en sy manne agtervolg. 17Die geveg het hewig begin woed en aan beide kante was daar baie wat gewond is en gesneuwel het. 18Ook Judas het gesneuwel, en die res het gevlug.
19Jonatan en Simon het hulle broer Judas opgetel en hom in die graf van sy vaders in Modeïn begrawe. 20Hulle het oor hom gehuil en die hele Israel het diep oor hom gerou. Hulle het baie dae lank oor hom geweeklaag en gesê:
21“Hoe het die magtige man,
die redder van Israel, gesneuwel!”
22Die verhaal van Judas se optrede, die oorloë, die dapper dade wat hy verrig het en sy grootheid, is nie neergeskryf nie, want dit is heeltemal te veel.
Verkiesing van Jonatan as leier
23Ná die dood van Judas het wettelose mans oral in verskillende streke van Israel opgeduik, en al die boosdoeners het weer na vore gekom. 24In daardie dae het 'n baie groot hongersnood ontstaan en die land het saam met hulle afvallig geraak. 25Bakgides het goddelose mans uitgekies en hulle as heersers oor die land aangestel. 26Hulle het rondgesoek na Judas se vriende en hulle opgespoor en voor Bakgides gebring, en hy het op hulle wraak geneem en met hulle die spot gedryf. 27Daar het groot verdrukking in Israel ontstaan, soos wat nooit gebeur het sedert die dag wat die laaste profeet onder hulle gesien is nie. 28Toe het al die vriende van Judas bymekaargekom en vir Jonatan gesê: 29“Vandat u broer Judas dood is, is daar nie 'n man soos hy wat kan uittrek en opruk teen ons vyande, teen Bakgides en diegene uit ons volk wat vir ons haat nie. 30Daarom het ons nou vandag vir jou gekies om in sy plek ons regeerder en aanvoerder te wees om ons oorlog te voer.” 31Jonatan het in daardie tyd die leierskap aanvaar en die plek van sy broer Judas ingeneem.
Veldtogte van Jonatan
32Bakgides het daarvan gehoor en probeer om hom dood te maak. 33Toe Jonatan, sy broer Simon, en almal saam met hom daarvan hoor, het hulle in die Tekoawoestyn in gevlug en by die water van die Asfarput kamp opgeslaan. 34Bakgides het op die Sabbatdag daarvan gehoor, en hy en sy hele leër het die Jordaan oorgesteek.
35Jonatan het sy broer Johannes as aanvoerder van 'n groot groep mense gestuur en sy vriende, die Nabateërs, versoek dat hulle al hulle bagasie stoor. 36Maar die Jambriete van Medaba het uitgegaan en Johannes met alles wat hy gehad het, gegryp en daarmee vertrek.
37Ná hierdie gebeure het mense aan Jonatan en sy broer Simon berig: “Die Jambriete hou 'n groot bruilof en hulle bring die bruid, 'n dogter van een van die belangrike edelmanne van Kanaän, met 'n groot geleide van Nadabat af.” 38Hulle het die bloed van hulle broer Johannes onthou, en het gaan wegkruip met die berg as skuilplek. 39Hulle het opgekyk en gesien, en sowaar, daar was 'n rumoer van mense met 'n groot klomp bagasie. Die bruidegom, sy vriende en sy broers het hulle met tamboeryne, musikante en baie wapens tegemoetgegaan. 40Die Judeërs het uit hulle hinderlaag opgespring en hulle doodgemaak; baie is gewond en het gesneuwel. Die res het in die berg in gevlug, en hulle het al hulle oorlogsbuit gevat. 41Die bruilof het in droefheid verander en die lied van die musikante in 'n klaaglied. 42Hulle het die bloed van hulle broer gewreek en teruggekeer na die moerasland van die Jordaan.
43Bakgides het dit gehoor en op die Sabbatdag met 'n groot leërmag tot by die Jordaan se walle gegaan. 44Jonatan het vir diegene saam met hom gesê: “Laat ons opstaan en veg vir ons lewens, want vandag is nie soos gister en eergister nie. 45Want kyk, die geveg is voor en agter ons, en die water van die Jordaan is hierdie kant en daardie kant, so ook die moerasland en ruigtes, en daar is nie plek om uit te draai nie. 46Roep dan nou na die Hemel, sodat julle gered kan word uit die hand van ons vyande.”
47Die geveg het begin en Jonatan het sy hand uitgestrek om Bakgides te tref, maar hy het voor Jonatan teruggeval. 48Jonatan en diegene saam met hom het in die Jordaan gespring en na die oorkant geswem, maar Bakgides se manne het nie die Jordaan na hulle toe oorgesteek nie. 49Ongeveer 'n duisend van Bakgides se manskappe het daardie dag gesneuwel.
50Bakgides het teruggekeer na Jerusalem en hulle het sterk stede in Judea gebou, die vesting in Jerigo, asook Emmaus, Bet-Goron, Bet-El, Timna, Piraton en Tefon, met hoë mure, poorte en sluitbalke. 51Hy het garnisoene in die stede geplaas om teen Israel te veg. 52Hy het Bet-Sur, Geseren die vesting versterk en van leërmagte en kosvoorrade voorsien. 53Hy het die seuns van die land se leiers gyselaar geneem en hulle in die vesting in Jerusalem ingekerker.
54In die tweede maand van die honderd-drie-en-vyftigste jaar het Alkimus beveel dat die muur van die binneste hof van die heiligdom afgebreek word; hy wou die werke van die profete afbreek en het trouens begin om dit te doen. 55Maar in daardie tyd is Alkimus swaar getref en is sy optrede verhinder. Hy het stom geword, is verlam en kon nie meer 'n woord praat of opdragte oor sy huis gee nie. 56Alkimus het in daardie tyd in groot pyn gesterf. 57Toe Bakgides sien dat Alkimus gesterf het, het hy na die koning teruggegaan. Daarna was die land van Juda twee jaar lank rustig.
Vredesverdrag tussen Bakgides en Jonatan
58Al die wetteloses het beraadslaag en gesê: “Kyk, Jonatan en diegene saam met hom leef rustig en sorgvry. Daarom sal ons nou vir Bakgides bring en hy sal hulle almal binne een nag gevange neem.” 59Hulle het gegaan en met hom beraadslaag. 60Hy het kamp opgebreek en met 'n groot leërmag vertrek en in die geheim aan al sy bondgenote wat in Juda was, briewe gestuur dat hulle Jonatan en diegene saam met hom gevange moet neem. Hulle kon dit egter nie doen nie, want hulle plan het bekend geraak. 61Jonatan se manne neem toe ongeveer vyftig van die manne van die land, die aanstigters van die kwaad, gevange en maak hulle dood.
62Jonatan en diegene saam met hom, en Simon, het teruggetrek na Bet-Basi in die woestyn. Hy het Bet-Basi se bouvalle weer opgebou en hulle het die stad versterk. 63Toe Bakgides dit te hore kom, het hy sy hele mag bymekaargemaak en bevele aan sy ondersteuners uit Juda gegee. 64Hy het by Bet-Basi gaan kamp opslaan en dae lank teen die stad geveg en oorlogswerktuie gebou. 65Jonatan het sy broer Simon in die stad agtergelaat en met 'n paar manne na die landelike gebied gegaan. 66Hy het Odomera en sy broers, asook die mense van Fasiron, in hulle tentkamp aangeval en begin om hulle te verslaan en hulle het verder getrek met hulle leërmagte. 67Simon en diegene saam met hom het uit die stad uitgegaan en die oorlogswerktuie aan die brand gesteek. 68Hulle het teen Bakgides geveg, en hy is deur hulle verpletter. Hulle het hom aanhoudend erg geteister, want sy plan en sy aanval was 'n mislukking. 69Hy was woedend vir die wettelose mans wat hom aangeraai het om die gebied binne te gaan en het baie van hulle doodgemaak, waarna hy besluit het om na sy land terug te keer.
70Jonatan het dit gehoor en gesante na hom gestuur om 'n vredesooreenkoms met hom aan te gaan en die gevangenes aan hulle uit te lewer. 71Hy het dit aanvaar en sy woord gehou. Hy het 'n eed teenoor Jonatan afgelê om sy hele lewe lank te probeer om hom nie kwaad aan te doen nie. 72Hy het die gevangenes wat hy voorheen uit die land van Juda gevange geneem het, aan hom oorgelewer, omgedraai en na sy land teruggekeer. Hy het nie weer hulle gebied ingeval nie. 73Die swaard in Israel het tot rus gekom. Jonatan het in Migmas gaan woon en begin om oor die volk regspraak te lewer. Hy het die goddeloses uit Israel verwyder.