Job antwoord dat Élifas sy bitter smart nie verstaan as hy dink dat hy sonder oorsaak klae nie.
1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in 'n skaal opgehef!
3Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam.
4Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op.
5Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk 'n bees by sy voer?
6Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van 'n eier?
7My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys.
Job wens dat hy mag sterwe: sy toestand, dink hy, is hopeloos.
8AG, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee!
9En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!
10Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie.
11Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees?
12Is my krag 'n krag van klip of my vlees van koper?
13Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie?
Sy vriende het hom in sy nood nie dié medelyde bewys waar hy op geregtig was nie.
14VIR die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.
15My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop,
16wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg —
17in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
18Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
19Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
20Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
21So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
22Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my 'n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
23Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
„Noem my my sonde” — dit is wat Job wil hê.
24ONDERRIG my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
25Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig 'n bestraffing uit, van julle afkomstig?
26Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van 'n wanhopige is vir die wind!
27Ja, julle sou 'n wees uitloot en julle vriend verhandel.
28Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.
29Keer tog terug — laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug — nóg is my geregtigheid daar.
30Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie?