1IN dié tyd, spreek die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en die bene van sy vorste en die bene van die priesters en die bene van die profete en die bene van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte uithaal,
2en hulle sal dit uitsprei voor die son en voor die maan en voor die hele leër van die hemel wat hulle liefgehad en gedien het, en waar hulle agter aan geloop het, en wat hulle gesoek en waarvoor hulle hul neergebuig het; dit sal nie versamel en begrawe word nie, mis sal dit op die aarde wees.
3En die dood sal bo die lewe verkies word deur die hele oorblyfsel, die wat oor is van hierdie bose geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, spreek die Here van die leërskare.
Die afval van God; die straf moet kom.
4EN jy moet vir hulle sê: So spreek die Here: Sal iemand val en nie weer opstaan nie? Of sal hy weggaan en nie weer terugkom nie?
5Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met 'n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer.
6Ek het geluister en gehoor: hulle spreek wat nie reg is nie; daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop soos 'n perd wat storm in die geveg.
7Selfs 'n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en 'n tortelduif en 'n swaweltjie en 'n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die Here nie.
8Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die Here is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers.
9Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die Here verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?
10Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.
11En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie.
12Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die Here.
13Saamskraap, wegraap sal Ek hulle, spreek die Here. Daar is geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, ja, die blare verdor. So het Ek ook vir hulle dié bestel wat dwarsoor hulle sal gaan.
14Waarom bly ons sit? Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan en daar omkom; want die Here onse God laat ons omkom, en Hy laat ons gifwater drink, omdat ons teen die Here gesondig het.
15Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op 'n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.
16Van Dan af word die gesnuif van sy perde gehoor, vir die geluid van die gerunnik van sy perde bewe die hele land; en hulle kom en eet die land op en sy volheid, die stad en die wat daarin woon.
17Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die Here.
18Ag, kon ek my maar opvrolik in kommer! My hart is krank in my.
19Daar is die hulpgeroep van die dogter van my volk uit 'n baie ver land: Is die Here nie in Sion nie? Of is sy Koning nie daarin nie? Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?
20Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!
21Vanweë die verbreking van die dogter van my volk is ek gebreek, is ek in die rou; verbaasdheid het my aangegryp.
22Is daar geen balsem in Gílead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?