Belofte en bedreiging uitgespreek by die tempelpoort.
1DIE woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:
2Staan in die poort van die huis van die Here, en roep hierdie woord daar uit en sê: Hoor die woord van die Here, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die Here te aanbid!
3So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.
4Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit!
5Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;
6vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie —
7dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.
8Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie.
9Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie,
10en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! — om al hierdie gruwels te doen?
11Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, 'n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek — kyk, Ek het dit gesien, spreek die Here.
12Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel.
13Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die Here, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie,
14daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het.
15En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.
16En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie.
17Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie?
18Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg.
19Terg hulle Mý? spreek die Here. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie?
20Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.
21So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis.
22Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie.
23Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.
24Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.
25Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat;
26maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders.
27Ook moet jy al hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie.
28Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die Here hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond.
29Skeer jou mooi hare af, o Jerusalem, en gooi dit weg, en hef op die kaal heuwels 'n klaaglied aan; want die Here het die geslag van sy grimmigheid verwerp en verstoot.
30Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die Here. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig.
31En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand — iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.
32Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
33En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
34En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid; want die land sal 'n puinhoop word.