1MAAR 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop,
2en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
3Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?
4As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.
5En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en 'n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.
6Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.
7En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het.
8En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel.
9En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.
10Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.
11En 'n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.
12En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.
13En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer.
14En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,
15sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.
16En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
Die apostels word uit die gevangenis verlos en weer deur die Raad ondervra.
17EN die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul,
18en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.
19Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:
20Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.
21En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.
22Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê:
23Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.
24En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.
25En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.
26Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.
27Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê:
28Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.
29En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
30Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang.
31Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.
32En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.
33Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring.
34Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring.
35Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne;
36want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.
37En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.
38En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word;
39maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.
40En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.
41Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.
42En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.