Petrus en Johannes voor die Joodse Raad.
1EN terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom,
2baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.
3En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand.
4En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword.
5Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar,
6ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was;
7en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?
8Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel,
9as ons vandag ondervra word oor 'n weldaad aan 'n siek man, waardeur hy gesond geword het,
10laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.
11Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het.
12En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
13En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.
14En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie.
15Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag
16en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar 'n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.
17Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie.
18En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
20want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.
21En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.
22Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud.
23En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het.
24En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het,
25wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink?
26Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.
27Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,
28om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
29En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,
30deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.
31En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
Vrywillige gemeenskap van goedere by die eerste Christene. Ananías en Saffíra.
32EN die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad.
33En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.
34Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
35En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.
36En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus,
37het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.