1Moenie jaloers wees
op die vrou na aan jou hart nie
en moet haar nie tot jou eie nadeel
'n slegte les leer nie.
2Moenie jou siel aan 'n vrou oorgee
sodat sy jou krag vertrap nie.
3Moenie naby 'n gesellin kom,
sodat jy in haar strikke val nie.
4Moenie bande aanknoop
met 'n sangeres,
sodat jy vasgevang word
deur haar kunsies nie.
5Moenie 'n maagd met jou oë begeer,
sodat jy in skadevergoeding
vir haar verstrik raak nie.
6Moenie jou siel aan prostitute oorgee,
sodat jy jou erfporsie verloor nie.
7Moenie in die strate
van die stad rondloer
en in verlate dele ronddwaal nie.
8Draai jou oë weg van
'n mooi geboude vrou,
en moenie vreemde skoonheid
begeer nie.
Deur die skoonheid van 'n vrou
is vele verlei;
daardeur word hartstog immers
aangesteek soos 'n vuur.
9Moet onder geen omstandighede
saam met 'n getroude vrou
sit en eet nie,
en moenie saam met haar
wyn drink as jy feesvier nie,
sodat jou siel nie na haar hunker
en jy met jou gees
in die verderf afgly nie.
10Moenie 'n ou vriend
in die steek laat nie,
want die nuwe een is nie sy gelyke nie.
'n Nuwe vriend is soos nuwe wyn;
eers wanneer dit verouder het,
sal jy dit met genot kan drink.
11Moenie die sondaar sy roem beny nie,
want jy weet nie wat sy uiteinde
sal wees nie.
12Moenie genot put uit dit
wat die goddelose behaag nie;
onthou dat hulle beslis
nie ongestraf na Hades sal gaan nie.
13Bly ver weg van iemand
wat die mag het om dood te maak
en jy sal beslis nie vreesbevange
vir die dood wees nie.
As jy wel in sy nabyheid is,
moet hom nie aanstoot gee nie,
sodat hy nie jou lewe neem nie.
Jy moet besef dat jy tussen
valstrikke beweeg en bo-op
die beskermingsmure van die stad loop.
14Leer ken jou naaste
na die beste van jou vermoë,
en soek raad by die wyses.
15Bespreek sake met mense
wat insig het,
en laat al jou gesprekke handel
oor die Wet van die Allerhoogste.
16Laat regverdige mense
saam met jou 'n maaltyd nuttig,
en laat jou roem bestaan
in jou ontsag vir die Here.
17Werk deur opgeleide
vakmanne gedoen, sal geprys word,
maar die leier van 'n volk
sal op grond van sy woorde
verstandig genoem word.
18Gevrees in sy stad
is die praatsieke mens,
en wie ook al roekeloos
is in wat hy sê, word gehaat.