1Moenie in 'n stryd gewikkel raak
met 'n invloedryke mens nie,
sodat jy nie in sy mag kom nie.
2Moenie in geding tree
met 'n welgestelde mens nie;
sy rykdom mag joune dalk oortref.
Goud het immers al menige mens vernietig
en die harte van konings korrup gemaak.
3Moenie met 'n praatsieke mens
'n woordestryd aanknoop
en moenie hout op sy vuur gooi nie.
4Moenie met 'n onopgevoede mens korswel
sodat jou voorouers hulle eer
ontneem word nie.
5Moenie iemand wat gebreek het
met sy sonde, teregwys nie;
onthou dat ons almal straf verdien.
6Moenie iemand in sy grysheid
beledig nie,
want sommige van ons word ook oud.
7Moenie oor iemand se dood
verheug wees nie;
onthou dat ons almal moet sterf.
8Moenie die redevoering
van wyses geringskat nie
en wend jou weer na hulle spreuke,
want van hulle sal jy opvoeding ontvang
en leer hoe om maghebbers te dien.
9Moenie die redevoering
van die oudstes verontagsaam nie,
want hulle het self ook
van hulle vaders geleer.
Van hulle sal jy insig verkry
en leer om 'n antwoord te gee
in 'n tyd van nood.
10Moenie 'n sondaar se kole stook nie,
sodat jy nie deur sy vuurvlam verbrand word nie.
11Moenie 'n vermetele mens teengaan
sodat hy vir jou 'n lokval stel
met jou eie woorde nie.
12Moenie iets uitleen aan
iemand wat magtiger is as jy nie;
as jy egter iets uitleen,
tree op asof jy dit reeds verloor het.
13Moenie borg staan
bo jou vermoë nie
en as jy wel borg staan,
sorg dat jy dit kan betaal.
14Moenie 'n regsgeding aangaan
met 'n regter nie,
want mense sal in sy guns beslis
vanweë sy aansien.
15Moenie saam met 'n roekelose
mens op reis gaan,
sodat hy vir jou 'n las word nie,
want hy sal maak net soos hy wil
en deur sy onbesonnenheid
sal jy ten gronde gaan.
16Moenie rusie maak
met 'n humeurige mens nie,
en moenie saam met hom
deur die woestyn trek nie,
want hy dink niks daarvan
om bloed te vergiet nie
en hy sal jou oorweldig,
daar waar geen hulp beskikbaar is nie.
17Moenie by 'n onnosele raad vra nie,
want hy sal nie in staat wees
om die gesprek geheim te hou nie.
18Moenie voor 'n vreemdeling
dinge doen wat geheim moet bly nie,
want jy weet nie waarmee hy
voor die dag sal kom nie.
19Moenie vir enige mens
jou hart oopmaak nie
en laat so iemand jou nie 'n guns bewys nie.