1Gelukkig is die mens
wat nie 'n fout met sy mond maak,
en wat nie deur die pyn
van sy sonde deurboor word nie.
2Gelukkig is die mens
wie se gewete hom nie veroordeel,
en wat sy hoop nie prysgee nie.
3Vir 'n suinige mens
is rykdom nie goed nie
en vir 'n gierige –
wat is die waarde van sy geld?
4Hy wat dinge van homself
weerhou, versamel vir ander,
en met sy besittings sal ander
weelderig leef.
5Hy wat homself kwaad aandoen,
teenoor wie sal hy goed wees?
Hy sal nooit vreugde ervaar
met sy geld nie.
6Daar is niks so erg soos
iemand wat homself te na kom nie,
en dit is die vergelding vir sy boosheid:
7Selfs al doen hy goed,
doen hy dit onbewus
en aan die einde openbaar hy sy boosheid.
8Boos is die een
met 'n afgunstige oog,
hy wat sy gesig wegdraai
en mense miskyk.
9Die oog van die hebsugtige
is nie tevrede met 'n deel nie,
en bose onreg verteer sy siel.
10'n Bose oog is jaloers oor brood,
en dit ontbreek op sy tafel.
11Kind, behandel jouself goed,
in ooreenstemming met wat jy besit,
en bring offerandes aan die Here
op 'n waardige wyse.
12Onthou dat die dood
nie gaan talm nie
en die ooreenkoms van Hades met jou
is nog nie aan jou openbaar nie.
13Voor jy te sterwe kom,
doen goed aan 'n vriend;
reik uit volgens jou vermoë,
gee vir hom.
14Moet jou nie onttrek
aan 'n goeie dag nie,
en laat nie 'n stukkie
van 'n goeie begeerte
by jou verbygaan nie.
15Jy sal tog nie die vrug
van jou harde werk
vir 'n ander agterlaat,
en jou verdienste deur die lot
laat verdeel nie?
16Gee, en neem, en laat jou verlei,
want in Hades kan 'n mens
geen genot soek nie.
17Alle vlees verouder
soos 'n kledingstuk,
want die eeue oue ooreenkoms is:
Jy sal die dood sterf.
18Soos 'n blaar wat uitspruit
aan 'n blaarryke boom
– sommige val af,
maar ander spruit uit –
so is 'n geslag van vlees en bloed;
die een sterf,
en die ander word gebore.
19Elke daad vergaan
en gaan ten gronde,
en die een wat dit verrig,
sal daarmee saam vergaan.
Wysheid se seëninge
20Gelukkig is die mens
wat oor Wysheid nadink
en die een wat verstandig redeneer,
21wat oor haar paaie
in sy hart nadink
en oor haar geheimenisse reflekteer.
22Gaan agter haar aan
soos 'n spoorsnyer
en lê haar voor op haar paaie.
23Wie deur haar vensters loer,
sal ook by haar deure luister.
24Wie naby haar huis oorbly,
sal ook 'n tentpen by haar mure inslaan.
25Hy sal sy tent naby haar opslaan,
en tuisgaan in 'n herberg
van goeie dinge.
26Hy sal sy kinders
in haar beskutting plaas,
en onder haar takke oornag.
27Hy sal deur haar teen die hitte
beskerm word,
en in haar heerlikheid sal hy tuisgaan.