1Hy wat aan teer vat, sal vuil word
en hy wat met 'n hoogmoedige mens meng, sal net soos hy word.
2Moenie optel wat vir jou
te swaar is nie,
en moenie met iemand meng
wat sterker en ryker as jy is nie.
Hoe kan 'n kleipot
met 'n koperketel meng?
Die een sal teen die ander stamp,
en een van hulle sal gebreek word.
3'n Ryke tree verkeerd op
en dan is hy ook nog verontwaardig;
'n arme is benadeel,
maar moet verskoning vra.
4As jy diensbaar is,
werk die ryke met jou saam,
maar as jy hulpbehoewend is,
sal hy sy rug op jou draai.
5As jy iets te bied het,
sal hy met jou saamleef
en hy sal jou uitbuit
en hy sal nie swaarkry nie.
6Sodra hy 'n behoefte aan
jou het, sal hy jou mislei
en hy sal vir jou glimlag
en jou hoop gee;
hy sal mooi met jou praat en sê,
“Wat het jy nodig?”
7en hy sal jou verleë maak
met sy voedsel –
totdat hy jou twee of drie keer
uitgebuit het
en hy jou uiteindelik bespot.
Daarna sal hy jou aankyk en jou verlaat
en sy kop vir jou skud.
8Wees versigtig dat jy
nie mislei word nie,
en moenie verneder word
deur jou dwaasheid nie.
9Wanneer 'n magtige persoon
jou uitnooi, wees terughoudend,
en hy sal jou soveel te meer uitnooi.
10Moenie voor op die wa wees
sodat jy verwerp word nie;
moet jou egter nie afsydig hou
sodat jy vergeet word nie.
11Moenie probeer om as 'n gelyke met hom te praat,
en moenie vertroue stel
in sy baie woorde nie,
want met baie gepraat
sal hy jou op die proef stel,
en selfs met 'n glimlag
sal hy jou toets.
12Ongenaakbaar is hy wat nie
sy woorde terughou nie,
en hy sal jou beslis nie mishandeling en tronkstraf spaar nie.
13Wees op jou hoede
en let noukeurig op,
want jy loop rond
met jou eie ondergang.
15Elke lewende wese hou van sy gelyke
en elke mens van sy medemens.
16Alle vlees vergader volgens soort
en aan een soos hy sal 'n man
hom verbind.
17Waarom sal 'n wolf
met 'n lam meng?
So is dit ook tussen
'n sondaar en 'n vrome.
18Watter vrede is daar tussen
'n hiëna en 'n hond?
En watter vrede is daar tussen
'n ryke en 'n arme?
19Die prooi van leeus is die wilde donkies in die woestyn;
so is die armes voer vir die rykes.
20Vir 'n trotsaard is nederigheid 'n gruwel;
so is 'n arme 'n gruwel vir 'n ryke.
21Wanneer 'n ryke struikel,
word hy ondersteun deur vriende,
maar wanneer 'n nederige persoon val,
word hy verstoot deur sy vriende.
22Wanneer 'n ryke struikel,
is daar baie helpers;
hy uiter woorde wat verbode is,
en hulle regverdig hom.
'n Nederige persoon struikel,
en hulle kritiseer hom;
hy praat sin, maar word
geen ruimte gegun nie.
23'n Ryke praat, en almal bly stil
en verhef sy woorde tot aan die wolke.
'n Arme praat en hulle vra:
“Wie is hy?”
En as hy struikel,
sal hulle hom daarby nog omstamp.
24Rykdom waarin daar
geen sonde is nie, is goed,
maar armoede is boos
in die mond van die goddelose.
25'n Mens se hart verander sy gesig
óf ten goede, óf ten kwade.
26'n Vrolike gesig is 'n teken
van 'n hart vol goeie dinge,
en die uitdink van gelykenisse
vereis moeitevolle argumente.