1Jerusalem, trek uit jou kleed
van smart en mishandeling
en trek vir altyd die prag aan
van die heerlikheid
wat van God kom.
2Hang 'n dubbele kleed om
van die geregtigheid
wat van God kom.
Draai 'n tulband om jou kop
van die Ewige se heerlikheid.
3Want God sal jou glans aan almal
onder die hemel toon,
4want die naam wat God jou noem,
sal vir ewig klink:
“Vrede deur Geregtigheid
en Heerlikheid deur Godvresendheid”.
5Staan op, Jerusalem,
klim op die hoogte,
kyk om jou heen na die ooste
en sien jou kinders wat versamel is –
van waar die son ondergaan
tot waar die son opkom –
deur die woord van die Heilige,
terwyl hulle verheug is
omdat God hulle onthou het.
6Want hulle het te voet
van jou weggegaan,
deur hulle vyande weggevoer,
maar God sal hulle na jou teruglei,
met heerlikheid gedra,
soos op 'n koningstroon.
7Want God het beveel
dat elke hoë berg
en die ewige heuwels
plat gemaak moet word,
dat die valleie tot gelyk grond
opgevul moet word,
sodat Israel veilig kan leef
in die heerlikheid van God.
8Die woude en ook elke geurige boom
sal vir Israel skadu bied
op bevel van God,
9want God sal Israel met vreugde
lei deur die lig van sy heerlikheid,
en met die ontferming en geregtigheid
wat van Hom af kom.