1Dit is die •boekrol
met die voorskrifte van God
en die Wet wat duur tot in ewigheid.
Almal wat aan haar vashou,
sal leef,
maar dié wat haar verlaat,
sal sterf.
2Keer terug, Jakob,
en gryp haar aan;
reis verder na die helder glans
van haar lig.
3Moenie jou verering
aan 'n ander gee
en wat vir jou voordelig is,
aan 'n vreemde nasie nie.
4Gelukkig is ons, Israel,
omdat dit wat vir God aanneemlik is,
aan ons bekend is.
Gedig ter bemoediging
5Skep moed, my volk,
wat die nagedagtenis
van Israel bewaar!
6Julle is aan die heidennasies
verkoop –
nie om julle te vernietig nie,
maar omdat julle God vertoorn het,
is julle aan teenstanders oorgegee.
7Want julle het julle Skepper uitgetart
deurdat julle aan demone,
en nie aan God nie, geoffer het.
8Julle het Hom vergeet,
die Ewige God wat julle versorg het,
en julle het ook Jerusalem bedroef
wat julle grootgemaak het.
9Want sy het die toorn gesien
wat van God oor julle gekom het
en sy het gesê:
“Luister, bure van Sion,
God het groot smart oor my gebring,
10want ek het die gevangenskap
van my seuns en dogters gesien
wat die Ewige oor hulle gebring het.
11Want met vreugde
het ek hulle grootgemaak,
maar met weeklag en rou
het ek hulle laat gaan.
12Laat niemand oor my, die weduwee,
ek wat deur so baie verlaat is,
verheug wees nie.
Ek is verlate as gevolg van
my kinders se sondes,
omdat hulle van die wet
van God afgewyk het.
13Hulle het sy voorskrifte nie erken nie,
op die weë van God se gebooie
het hulle ook nie geloop nie,
en hulle het ook nie die paaie
van dissipline betree nie.
14Laat die bure van Sion kom –
dink aan die gevangenskap
van my seuns en my dogters
wat die Ewige oor hulle gebring het,
15want Hy het 'n heidennasie
uit die verte oor hulle gebring –
'n nasie, skaamteloos
en met 'n ander taal,
wat 'n ou man nie eerbiedig nie
en ook met 'n kind nie medelye het nie.
16Hulle het die weduwee
se geliefde seuns ontvoer,
en die eensame vrou
van haar dogters beroof.
17“Maar ek, hoe kan ek julle help?
18Want Hy wat die kwaad
oor julle gebring het,
Hy sal julle uit die hand
van julle vyande bevry.
19Gaan weg, kinders, gaan weg,
want ek is verlate agtergelaat.
20Ek het die lang stola van vrede
uitgetrek
en die roukleed van my smeekgebed
aangetrek.
Ek sal my lewe lank tot die Ewige roep.
21Skep moed, kinders!
Roep tot God
en Hy sal julle uit oorheersing,
uit die hand van die vyande, bevry.
22Want ek het my hoop gevestig
op die Ewige om julle te red;
toe het vreugde van die heilige Een
na my gekom,
vanweë sy ontferming
wat binnekort na julle sal kom
van julle ewige Redder.
23Want ek het julle weggestuur
met rou en geweeklaag,
maar God sal julle weer
aan my teruggee –
met ewige vreugde en blydskap.
24Want soos die bure van Sion
nou julle gevangenskap gesien het,
so sal hulle binnekort julle redding
deur God sien,
wat na julle sal kom van die Ewige
met groot heerlikheid en glans.
25Kinders, verdra met geduld
die toorn wat van God af
oor julle gekom het.
Jou vyand het jou agtervolg,
maar jy sal binnekort
hulle vernietiging sien
en jy sal op hulle nek trap.
26My brose kinders het
op ruwe paaie gereis;
hulle is weggevoer soos 'n kudde
deur vyande geroof.
27Skep moed, kinders,
en roep tot God,
want Hy wat dit oor julle gebring het,
Hy sal weer aan julle dink.
28Want soos die gedagte
by julle ontstaan het
om van God weg te dwaal,
so moet julle met tienvoudige ywer
terugkeer om Hom te soek.
29Want die Een wat die kwaad
oor julle gebring het,
sal saam met julle redding
vir julle ewige vreugde bring.”
30Skep moed, Jerusalem,
die Een wat jou jou naam
gegee het, sal jou vertroos.
31Verdoem sal hulle wees
wat jou sleg behandel het
en wat hulle oor jou val
verheug het.
32Verdoem sal die stede wees
wat jou kinders verkneg het;
verdoem sal sy wees
wat jou kinders ontvang het,
33want soos sy oor jou val
bly geword het
en haar oor jou verwoesting
verheug het,
net so sal sy oor haar eie
verlatenheid treur.
34Ek sal die gejubel
oor haar groot bevolking
van haar wegneem
en haar trots sal in smart verander.
35Want vuur van die Ewige af
sal baie dae lank oor haar kom
en sy sal vir 'n baie lang tyd
deur demone bewoon word.
36Kyk om jou heen, Jerusalem,
na die ooste,
en sien die vreugde wat van God af
na jou toe kom.
37Kyk, jou kinders kom,
hulle wat jy weggestuur het.
Hulle kom, van die ooste tot die weste,
versamel deur die woord van die Heilige,
en verheug hulle in die heerlikheid
van God.