Judas Makkabeus se oorwinnings
1Intussen het Judas, wat ook Makkabeus genoem is, en hulle wat saam met hom was, ongemerk die dorpe binnegegaan en hulle volksgenote opgeroep. Hulle het dié wat getrou gebly het aan die Joodse geloof byeengebring en saamgeneem – omtrent sesduisend man. 2En hulle het die Here aangeroep om medelye te hê met die volk wat deur almal vertrap word, om jammer te wees oor die •tempel wat deur goddeloses ontheilig is, 3om Hom te ontferm oor die stad wat op die punt staan om vernietig en met die grond gelyk gemaak te word, om te luister na die bloed wat na Hom roep, 4ook om die onregmatige uitwissing van onskuldige kinders te onthou, en die lasterlikhede wat teen sy Naam gepleeg is, en om te toon dat Hy die bose haat.
5Nadat Makkabeus sy leërmag georganiseer het, was hy inderdaad vir die heidennasies onoorwinlik, omdat die toorn van die Here in medelye verander het. 6Hy het toe onverwags gegaan en stede en dorpe aan die brand gesteek, strategiese plekke oorgeneem, en daar was nie min vyande wat hy op die vlug gejaag het nie! 7Hy het veral die nagte benut om sulke aanvalle te loods, en gerugte van sy dapperheid het oral versprei.
8Toe Filippus sien dat die man stadig maar seker vordering maak en al hoe meer sukses behaal, het hy 'n brief geskryf aan Ptolemeus, die goewerneur van Koile-Sirië en Fenisië, om die koning se belange te help beskerm. 9Ptolemeus het toe onmiddellik Patroklus se seun Nikanor, een van sy vernaamste Vriende, aangestel, en nie minder nie as twintigduisend heidene uit alle heidennasies onder sy aanvoering geplaas, en hom gestuur om die hele Joodse volk uit te roei. Hy het ook Georgias, 'n generaal met ervaring in oorlogvoering, aangestel om hom by te staan. 10Nikanor het beplan om vir die koning die heffing van tweeduisend talent silwer wat hy aan die Romeine verskuldig was, uit die verkoop van gevange Judeërs bymekaar te maak. 11Hy het toe onmiddellik 'n boodskap na die kusstede gestuur om hulle uit te nooi om Joodse slawe te koop met die belofte om negentig slawe vir 'n talent te oorhandig, maar hy het nie verwag dat die oordeel van die Allerhoogste hom weldra sou inhaal nie. 12Judas het te hore gekom van Nikanor se aantog, en toe hy sy volgelinge vertel van die aankoms van die leërmag, 13het die lafhartiges, dié wat God se oordeel nie vertrou het nie, in alle rigtings uiteengespat en die plek verlaat. 14Die ander het al die oorblyfsels van hulle besittings verkoop en terselfdertyd die Here gesmeek om diegene te red wat deur die goddelose Nikanor verkoop is, nog voordat hy met hulle slaags geraak het – 15indien nie ter wille van hulleself nie, dan ter wille van die verbonde met hulle vaders, en ter wille van sy heilige en glorieryke Naam wat oor hulle uitgeroep is. 16Maar Makkabeus het sy volgelinge bymekaargeroep, sesduisend in totaal, en hulle aangespoor om nie paniekbevange oor die vyand te raak en nie die heidennasies, geensins gering in getal, te vrees wat onregmatig teen hulle optrek nie, maar om dapper te veg 17en die wettelose wandaad voor oë te hou wat teen hulle heiligdom gepleeg is, asook die foltering van die veragte stad en die omverwerping van hulle tradisionele lewenswyse. 18“Hulle vertrou immers gelyktydig op hulle wapens en hulle heldedade;” het hy gesê, “ons, daarenteen, vertrou op die Almagtige God wat die hele wêreld, ja, ook diegene wat teen ons optrek, met 'n kopknik kan vernietig.” 19Hy het hulle boonop vertel van die talle kere wat hulle voorvaders hulp ontvang het, soos die keer in Sanherib se tyd toe honderd vyf-en-tagtigduisend gesneuwel het, 20en van die geveg teen die Galasiërs wat in Babilonië plaasgevind het, toe al agtduisend die geveg saam met vierduisend Macedoniërs aangepak het. Toe die Macedoniërs in 'n hoek gedryf was, het die agtduisend die honderd vyf-en-twintigduisend verslaan, omdat daar vir hulle van die Hemel af hulp gekom het, en hulle baie goed buitgemaak het. 21Hierdeur het hy hulle moed ingepraat en hulle gereedgemaak om te sterf vir hulle wette en hulle vaderland. Hy het sy leër in vier dele verdeel 22en sy broers as aanvoerders van die afdelings aangestel: Simon, Josef en Jonatan. Hy het vyftienhonderd onder elkeen se bevel geplaas. 23Hy het ook vir Eleasar aangestel. Nadat hy uit die heilige boek voorgelees het, het hy die wagwoord gegee, “Met God se hulp!” en self as aanvoerder van die eerste kohort soldate die geveg met Nikanor aangeknoop. 24Die Almagtige was hulle bondgenoot, en hulle het meer as negeduisend van die vyand neergevel, die grootste deel van Nikanor se weermag verwond en vermink, en almal gedwing om te vlug. 25Ook het hulle die geld van dié wat gekom het om hulle te koop, afgevat. Nadat hulle die vyand 'n lang ruk agtervolg het, het hulle teruggekeer, omdat dit al laat was; 26want dit was die dag voor die Sabbat, en om hierdie rede kon hulle nie voortgaan met die agtervolging nie. 27Nadat hulle die wapens van die vyand afgeneem en hulle wapenrusting as oorlogsbuit geneem het, het hulle gekom om die Sabbat te vier, terwyl hulle die Here, wat hulle op daardie dag gered het as die begin van sy barmhartigheid, uitbundig prys en dank. 28Ná die Sabbat het hulle 'n deel van die oorlogsbuit aan die gemarteldes en die weduwees en weeskinders gegee, en die res van die buit onder hulleself en hulle kinders verdeel.
29Nadat hulle dit gedoen het, het hulle saam 'n smeekgebed aangehef waarin hulle die barmhartige Here versoek het om tot die einde toe met sy diensknegte versoen te wees. 30Hulle het dié wat saam met Timoteus en Bakgides was, die stryd aangesê, meer as twintigduisend van hulle gedood, en sommige baie hoë vestings maklik in besit geneem. Daarna het hulle die groot buit in gelyke dele onder mekaar verdeel, asook onder die gemarteldes, weeskinders en weduwees, en die oudstes. 31Die wapens wat hulle gebuit het, het hulle alles sorgvuldig op geskikte plekke bymekaar gesit en die res van die oorlogsbuit na Jerusalem geneem. 32Hulle het die bevelvoerder oor Timoteus se soldate doodgemaak, 'n uiters goddelose man wat die Judeërs baie probleme besorg het. 33Tydens die oorwinningsfeeste in die vaderland het hulle diegene verbrand wat die heilige poorte aan die brand gesteek het – ook vir Kalisthenes, wat in 'n geboutjie in gevlug het, en wat sy verdiende loon vir sy goddeloosheid ontvang het. 34Ook Nikanor, wat driedubbel sondig was en duisend handelaars gebring het om Judeërs te koop, 35is met die hulp van die Here verneder deur diegene wat hy as die geringstes geag het. Daarna moes hy sy klere uittrek en soos 'n slaaf wat dros, alleen wegvlug deur die binneland tot by Antiogië, terwyl hy slegs daarin geslaag het om sy eie leërmag te vernietig. 36Hy, wat onderneem het om die skatplig aan die Romeine te verseker deur die inwoners van Jerusalem gevange te neem, het nou bekend gemaak dat die Judeërs 'n Verdediger het en daarom onoorwinlik is, omdat hulle die wette wat deur Hom bepaal is, gehoorsaam het.