1Dit het ook gebeur dat sewe broers saam met hulle moeder gevange geneem en deur die koning gedwing is om van die verbode varkvleis te eet, en ook met swepe en rieme gemartel is. 2Een van hulle, wat die woordvoerder was, het só gesê: “Wat wil jy vir ons vra en van ons te wete kom? Want ons is gereed om te sterf eerder as om die wette van ons vaders te oortree.” 3Maar die koning het woedend geword en opdrag gegee om die braaipanne en ketels warm te maak. 4En hulle is onmiddellik warm gemaak en hy het toe opdrag gegee dat hulle die tong van die mense se woordvoerder uitsny en sy kopvel aftrek, en sy hande en voete afsny, terwyl die res van die broers en die moeder dit aanskou. 5Toe hy totaal hulpeloos was, het die koning beveel dat hulle hom na die vuur neem en hom in 'n pan braai terwyl hy nog asemhaal. Terwyl die rook van die pan wyd versprei het, het hulle mekaar aangemoedig om dapper saam met die moeder te sterf en gesê: 6“Die Here God kyk toe en het werklik medelye met ons, soos Moses duidelik gemaak het deur sy lied wat openlike getuienis teenoor die mense lewer, toe hy gesê het, ‘En Hy sal medelye hê met sy diensknegte.’ ” 7Nadat die eerste broer op hierdie wyse gesterf het, het hulle die tweede een gebring om hom te bespot. Nadat hulle sy kopvel met die hare afgetrek het, het hulle hom gevra: “Sal jy eet, voordat jou liggaam ledemaat vir ledemaat gepynig word?” 8Hy het in die taal van sy voorvaders geantwoord en gesê: “Nee!” Daarom het hy op sy beurt dieselfde marteling as die eerste een ondergaan. 9Met sy laaste asem het hy gesê: “Jy, jou vervloekte, jy ontneem ons wel hierdie lewe, maar die Koning van die wêreld sal ons wat ter wille van sy wette gesterf het, laat opstaan tot 'n ewige opstanding van die lewe.” 10Ná hom is die derde een bespot. Toe hy gevra is, het hy vinnig sy tong uitgesteek en moedig sy hande na vore gehou. 11En hy het dapper gesê: “Uit die hemel het ek hulle gekry, maar ter wille van sy wette verag ek hulle, en van Hom verwag ek om hulle weer terug te kry.” 12Gevolglik was die koning en diegene saam met hom verbaas oor die seun se innerlike krag, aangesien hy sy pyn as niks beskou het nie. 13Nadat hy ook gesterf het, het hulle die vierde broer op soortgelyke wyse gefolter en mishandel. 14Toe hy amper dood was, het hy soos volg gesê: “Dit is beter om deur mense te sterf en om uit te sien na die hoop wat God gee om weer deur Hom opgewek te word. Maar vir jou sal daar inderdaad geen opstanding tot die lewe wees nie.” 15Vervolgens het hulle die vyfde broer ingebring en mishandel. 16Hy het vir die koning gekyk en gesê: “Hoewel jy sterflik is, maak jy soos jy wil, omdat jy mag onder mense het – maar moenie dink dat ons volk deur God verlaat is nie. 17Jy, wag maar, en aanskou sy groot krag – hoe Hy jou en jou nageslag sal martel.” 18Ná hom het hulle die sesde broer gebring. Toe hy op die punt was om te sterf, het hy gesê: “Moenie 'n fout maak nie. Moet jouself nie mislei nie, want ons ly hierdie dinge deur ons eie toedoen, omdat ons teen ons eie God gesondig het; daarom het verstommende dinge gebeur. 19Maar jy moenie dink jy sal ongestraf bly omdat jy teen God probeer veg het nie.” 20Veral die moeder was bewonderenswaardig en verdien om met respek onthou te word, want sy het, hoewel sy haar sewe seuns op een dag sien sterf het, dit moedig verduur omdat sy op die Here gehoop het. 21Gevul met 'n edele gees, het sy elkeen van hulle in die taal van haar voorvaders aangemoedig, en haar vroulike betoog met die moed van 'n man versterk en vir hulle gesê: 22“Ek weet nie hoe julle in my skoot ontstaan het nie, en ek het ook nie aan julle asem en lewe gegee nie, en die elemente van elkeen van julle het ek nie georden nie. 23Daarom gee die Skepper van die wêreld, Hy wat die oorsprong van die mens gevorm en die oorsprong van alles bedink het, aan julle in sy barmhartigheid weer asem en lewe, omdat julle julleself nou geringskat ter wille van sy wette.” 24En omdat Antiogus gedink het dat hy minagtend behandel word, en agterdogtig was oor haar beskuldigende stem, het hy nie alleen met woorde 'n beroep op die jongste seun wat nog oorgebly het, gedoen nie, maar ook onder eed bevestig dat hy hom ryk en gelukkig sou maak indien hy afstand doen van die gebruike van sy voorvaders. Hy sou hom as 'n vriend neem en sake aan hom toevertrou. 25Maar toe die jong man geensins wou luister nie, het die koning die moeder nader geroep, en hy het daarop aangedring dat sy die jong man oortuig om sy lewe te red. 26Nadat hy lank aangedring het, het sy onderneem om die seun te oorreed. 27Sy het oor die seun gebuig en die wrede tiran vir die gek gehou en só vir hom in die taal van haar voorvaders gesê: “Seun, jy moet medelye hê met my wat jou vir nege maande in die moederskoot gedra het, drie jaar lank met moedersmelk gevoed het, jou grootgemaak het, jou gebring het tot op hierdie tydstip in jou lewe, en jou versorg het. 28Ek smeek jou, kind, om die hemel en die aarde en alles wat daarin is, te aanskou, en deur alles te sien, te besef dat God dit nie uit bestaande dinge gemaak het nie, en dat die menslike geslag ook so gemaak is. 29Moenie skrik vir hierdie laksman nie, maar wees jou broers waardig en aanvaar die dood, sodat ek jou deur die genade saam met jou broers mag terugkry.” 30Terwyl sy nog besig was om te praat, het die jong man gesê: “Waarvoor wag julle, ek gehoorsaam nie die voorskrif van die koning nie, maar die voorskrif van die Wet wat aan ons vaders deur Moses gegee is. 31Jy, wat allerhande soorte boosheid teen die Hebreërs uitgedink het, sal beslis nie die hand van God ontvlug nie. 32Want ons ly vanweë ons eie sondes. 33Maar as ons lewende Here vir 'n kort tydjie kwaad is om ons te berispe en te dissiplineer, dan sal Hy weer met sy diensknegte versoen word. 34Maar jy, jou goddelose en mees besoedelde van alle mense, moenie sonder rede hoogmoedig en opgeblase wees deur onseker verwagtings wanneer jy jou hand teen die kinders van die hemel lig nie, 35want jy het nog nie die oordeel van die almagtige, alsiende God vrygespring nie. 36Want ons broers het 'n kort lyding verduur en ervaar nou die ewigdurende lewe onder die verbond van God, maar jy sal deur God se oordeel die regverdige straf vir jou hoogmoed kry. 37Maar ek, soos my broers, gee liggaam en siel prys ter wille van voorvaderlike wette, en ek roep God aan om gou genade teenoor die volk te bewys, asook dat jy deur folteringe en geselslae heen mag bely dat Hy alleen God is, 38sodat deur my en my broers die toorn van die Almagtige tot 'n einde kom, wat ons hele volk tereg getref het.” 39Hieroor het die koning woedend geword en hy het hom nog slegter as die ander behandel, omdat hy gegrief was oor die minagting. 40So het hy ook onbevlek gesterf terwyl hy volkome op die Here vertrou het. 41Ten laaste, ná die seuns, het die moeder ook gesterf. 42Hiermee genoeg inligting oor offers van binnegoed en buitensporige martelinge.