Vriendskapsverdrag met die Romeine
1Judas het van die Romeine se reputasie gehoor –
dat hulle buitengewoon magtig was;
dat hulle goedgesind was teenoor almal wat by hulle aangesluit het;
dat hulle met almal wat hulle nader, 'n vriendskapsverdrag sluit;
en dat hulle buitengewoon magtig was.
2Mense het hom vertel
asook van die dapperheid wat hulle onder die Galasiërs getoon het deurdat hulle hulle oorwin en belastingpligtig gemaak het,
3en van alles wat hulle in die landstreek van Spanje gedoen het om beheer oor die silwer- en goudmyne daar te verkry;
4en dat hulle deur hulle strategie en uithouvermoë oor die hele gebied beheer verkry het, selfs al was dit baie ver van hulle af,
ook oor die konings wat teen hulle opgetrek het vanaf die eindes van die aarde, totdat hulle hulle verpletter het en 'n vernietigende slag toegedien het,
en dat dié wat oorgebly het, jaarliks aan hulle belasting betaal;
5en dat hulle Filippus en Perseus, die koning van die Kittiërs, en ander wat teen hulle in opstand gekom het, in 'n oorlog verpletter en oor hulle beheer verkry het;
6en dat Antiogus, die groot koning van Asië, deur hulle vermorsel is toe hy met 'n baie groot leërmag bestaande uit honderd-en-twintig olifante, perderuiters en strydwaens teen hulle opgetrek het om teen hulle oorlog te maak;
7en dat hulle hom lewendig gevange geneem en bepaal het dat hy en diegene wat ná hom regeer, aan hulle 'n hoë belasting moet betaal en gyselaars moet lewer en as betaling 8die gebied van Indië, Medië en Lidië, van hulle beste gebiede, moes afstaan, en dat hulle dit by hom afgevat en aan koning Eumenes gegee het;
9en dat die Grieke beplan het om die Romeine te gaan uitroei, 10maar die plan het aan hulle bekend geword en hulle het 'n enkele generaal teen die Grieke gestuur en teen hulle oorlog gemaak, en baie van hulle is gewond en het gesneuwel, hulle vroue en kinders is gevange geneem, hulle is beroof, hulle land is in besit geneem, hulle vestings is afgebreek en hulle is tot op hierdie dag slawe gemaak.
11Ook die res van die koninkryke en die eilande, almal wat ooit teen die Romeine in opstand gekom het, is vernietig en tot slawe gemaak, maar met hulle vriende en dié wat hulle ondersteun het, het hulle hulle vriendskap behou; 12hulle het konings van naby en ver oorwin en almal wat van hulle reputasie gehoor het, het hulle gevrees. 13Almal vir wie hulle wou help en aanstel as konings, het koning geword, en almal vir wie hulle wou onttroon, het hulle onttroon, en hulle is uitermate hoog geag. 14Maar te midde van al hierdie gebeure het geeneen van hulle 'n kroon opgesit of hom in purper geklee om te spog nie. 15Hulle het vir hulleself 'n raadsaal gebou en daagliks het driehonderd-en-twintig mense voortdurend beraadslaag oor die bevolking, sodat hulle ordelik sou optree. 16En hulle vertrou elke jaar een man om oor hulle te regeer en oor hulle hele land te heers en almal gehoorsaam die een man; daar is nie afguns of jaloesie onder hulle nie.
17Judas het Eupolemus, die seun van Johannes, die seun van Akkus, en Jason, die seun van Eleasar, uitgekies en hulle na Rome gestuur om 'n vriendskapsverdrag en bondgenootskap te sluit, 18om die juk van hulle af te neem, want hulle het gesien dat die koninkryk van die Grieke Israel tot slawerny verkneg het. 19Hulle het na Rome gegaan, 'n baie lang pad, en die raadsaal binnegegaan en gesê: 20“Judas Makkabeus en sy broers en die meerderheid van die Judeërs het ons na julle gestuur om met julle 'n bondgenootskap en vredesooreenkoms aan te gaan sodat ons as julle bondgenote en vriende opgeteken kan word.”
21Die versoek het by hulle byval gevind, 22en hier volg die afskrif van die brief wat hulle as antwoord op skryftablette van brons geskryf en na Jerusalem gestuur het om daar by hulle te bly ter herinnering aan die vredesooreenkoms en bondgenootskap:
23“Mag dit vir ewig goed gaan met die Romeine en met die volk van die Judeërs, op see en op land, en mag die swaard en die vyand ver van hulle bly.
24“As daar eerste vir Rome of enige van die bondgenote in hulle hele magsgebied oorlog kom, 25sal die volk van die Judeërs heelhartig saam met hulle veg, soos die omstandighede vereis, 26en vir dié wat teen Rome veg, sal hulle nie graan, wapens, geld of skepe gee of verskaf nie, ooreenkomstig Rome se besluit. Hulle sal hulle verpligtinge nakom sonder om iets daarvoor te ontvang. 27Op dieselfde wyse, as daar eerste vir die volk van die Judeërs oorlog kom, sal die Romeine hulle met hart en siel te hulp kom, soos die omstandighede vereis. 28Vir die vyand se bondgenote sal, ooreenkomstig Rome se besluit, nie graan, wapens, geld of skepe gegee word nie. Die Romeine sal hierdie verpligtinge sonder verraad nakom. 29So het die Romeine, volgens hierdie voorwaardes, met die Judese burgers 'n ooreenkoms aangegaan. 30As albei partye, nadat hierdie voorwaardes in werking gestel is, saam besluit om iets by te voeg of weg te laat, sal hulle dit na goeddunke doen, en wat hulle ook al byvoeg of weglaat, sal geldig wees.
31“Oor die kwaad wat koning Demetrius hulle aandoen, het ons vir hom geskryf en gesê,
“ ‘Waarom het jy jou juk op ons vriende en bondgenote, die Judeërs, swaar gemaak? 32As hulle nog langer oor jou kla, dan sal ons aan hulle reg laat geskied en teen jou op see en op land oorlog maak.’ ”