Regering van Demetrius
1In die honderd-een-en-vyftigste jaar het Demetrius, die seun van Seleukus, uit Rome vertrek en saam met 'n paar manne na 'n stad by die see opgegaan en daar regeer. 2Terwyl hy besig was om die koninklike paleis van sy vaders binne te gaan, het die leërmagte vir Antiogus en Lisias gevange geneem om hulle aan hom uit te lewer, 3maar toe hierdie daad aan Demetrius bekend geword het, het hy gesê: “Ek wil hulle gesigte nie eers sien nie!” 4Die leërmagte het hulle toe doodgemaak en Demetrius het op die troon van sy koninkryk gaan sit.
5Al die wettelose en goddelose mans uit Israel het na hom gekom. In sy begeerte om hoëpriester te word, het Alkimus hulle gelei. 6Hulle het die volk by die koning aangekla en gesê: “Judas en sy broers het al u vriende om die lewe gebring en ons uit ons land verdryf. 7Stuur dan nou iemand, 'n man in wie u vertroue het; laat hy na al die verwoesting kom kyk wat Judas oor ons en die koning se gebied gebring het en laat hy hulle en almal wat hulle help, straf.”
8Die koning het toe vir Bakgides, een van die •Vriende van die Koning wat Oorkant die Rivier regeer het, gekies; hy was 'n belangrike man in die koninkryk en getrou aan die koning. 9Die koning het hom en die goddelose Alkimus gestuur, vir Alkimus die priesterskap aangebied, en hom beveel om wraak te neem op die Israeliete. 10Hulle het vertrek en met 'n groot leërmag die land van Juda ingegaan, en Bakgides het boodskappers op 'n verraderlike wyse met 'n aanbod van vrede na Judas en sy broers gestuur. 11Maar Judas en sy manne het nie op hulle woorde ag geslaan nie, want hulle het gesien dat hulle met 'n groot leërmag gekom het. 12'n Groep skrifkenners het by Alkimus en Bakgides bymekaargekom om regverdige vredesvoorwaardes te vra. 13Die Gasideërs was die eerste van al die Israeliete om vrede van hulle te versoek, 14want hulle het gesê: “'n Man, 'n priester uit die nageslag van Aäron, het saam met die leërmagte gekom en hy sal ons nie onreg aandoen nie.” 15Alkimus het woorde van vrede tot hulle gerig, 'n eed teenoor hulle afgelê en gesê: “Ons sal julle en julle vriende nie kwaad aandoen nie.” 16Hulle het hom vertrou, maar hy het sestig van hulle manne gevange geneem en hulle op een dag doodgemaak, soos geskryf staan:
17“Die vlees en bloed van u heiliges
het hulle rondom Jerusalem uitgegiet,
en niemand het hulle begrawe nie.”
18Vrees en bewing vir hulle het die hele volk oorval en hulle het gesê: “Daar is geen waarheid of regverdigheid in hulle nie, want hulle het die ooreenkoms en die eed wat hulle afgelê het, verbreek.” 19Bakgides het vanaf Jerusalem vertrek en in Bet-Sait kamp opgeslaan. Hy het mense gestuur, en baie van die manne saam met hom wat na hom oorgeloop het, asook sekere mense uit die volk, gevange geneem en hulle geslag en in 'n groot put gegooi. 20Hy het Alkimus oor die land aangestel en 'n leërmag by hom gelaat om hom te help. Bakgides het toe na die koning teruggekeer.
21Alkimus het gestry om die behoud van sy hoëpriesterskap. 22Almal wat moeilikheid vir hulle volk veroorsaak het, het by hom aangesluit. Hulle het beheer oor die land van Juda gekry en Israel 'n swaar slag toegedien. 23Judas het al die kwaad gesien wat Alkimus en diegene saam met hom die Israeliete aangedoen het, meer as wat die heidennasies hulle aangedoen het. 24Hy het uitgegaan na al die omliggende gebiede van Juda en wraak geneem op die manne, die oorlopers, en hulle verhinder om na die landelike gebied uit te gaan. 25Toe Alkimus sien dat Judas en diegene saam met hom sterk geword het en besef dat hy nie in staat is om teen hulle staande te bly nie, het hy na die koning teruggekeer en hulle van bose dinge beskuldig.
Val van Nikanor
(2 Mak 14:15 – 15:36)
26Die koning het Nikanor, een van sy gesiene aanvoerders, wat Israel gehaat en verag het, gestuur en hom beveel om die volk uit te roei. 27Nikanor het met 'n groot leërmag na Jerusalem gegaan en op verraderlike wyse 'n boodskap met 'n vredesaanbod na Judas en sy broers gestuur met die woorde: 28“Laat daar nie twis tussen my en julle wees nie. Ek sal met 'n paar manne kom sodat ek julle van aangesig tot aangesig in vrede kan sien.” 29Hy het na Judas gegaan en hulle het mekaar vredevol gegroet, maar die vyand was gereed om Judas te ontvoer. 30Toe dit aan Judas bekend gemaak is dat Nikanor met listige bedoelings na hom gekom het, het hy bang geword vir hom en wou hom nie weer van aangesig tot aangesig sien nie. 31Nikanor het besef dat sy plan bekend geraak het, en het vertrek om Judas naby Gafarsalama in geveg te ontmoet. 32Ongeveer vyfhonderd van Nikanor se manskappe het gesneuwel en die res het na die Stad van Dawid gevlug.
33Ná hierdie gebeure het Nikanor opgegaan na die berg Sion. Sommige van die priesters van die heiligdom en van die oudstes van die volk het uitgekom om hom in vrede te verwelkom en vir hom die •brandoffer te wys wat ter wille van die koning geoffer word. 34Maar hy het die spot met hulle gedryf, hulle uitgelag en •onrein gemaak en in 'n verwaande trant gepraat. 35Hy het woedend 'n eed afgelê met die woorde: “As Judas en sy leërafdeling nie nou in my hande oorgelewer word nie, sal ek, as dit sou gebeur dat ek veilig terugkeer, hierdie tempel verbrand.” En hy het in groot woede vertrek.
36Die priesters het toe na binne gegaan en voor die altaar en die •tempel gaan staan en gehuil en gesê:
37“U het self hierdie huis uitgekies
dat u Naam daaroor
uitgeroep sou word,
om 'n huis van gebed
en smeking vir u volk te wees.
38Neem wraak op hierdie man
en sy leërafdeling
en laat hulle deur die swaard sneuwel.
Onthou hulle laster
en moenie aan hulle
verblyfplek gee nie.”
39Nikanor het uit Jerusalem vertrek en in Bet-Goron kamp opgeslaan. 'n Leërmag uit Sirië het daar by hom aangesluit.
40Judas het in Adasa met drieduisend man kamp opgeslaan. Daarna het hy gebid en gesê: 41“Toe die koning se gesante gelaster het, het u engel uitgegaan en honderd vyf-en-tagtigduisend van hulle neergevel. 42Verpletter vandag hierdie leërafdeling só voor ons dat dié wat oorbly, weet dat hy u heiligdom belaster het. Straf hom ooreenkomstig sy boosheid.”
43Die leërafdelings het op die dertiende van die maand Adar die stryd aangeknoop. Nikanor se leërafdeling is verpletter en hyself het eerste in die geveg gesneuwel. 44Toe sy leërafdeling sien dat Nikanor gesneuwel het, het hulle hulle wapens neergegooi en gevlug. 45Die Judeërs het hulle een dagreis ver bly agtervolg, vanaf Adasa tot hulle by Geser gekom het, en die trompette as aanvalsteken agter hulle geblaas. 46Toe het mense uit al die omliggende Judese dorpe gekom, hulle op die flanke aangeval en teruggedryf na hulle agtervolgers toe, en almal het deur die swaard gesneuwel, selfs nie een het oorgebly nie. 47Hulle het die oorlogsbuit en die voorraad gevat en Nikanor se kop en sy regterhand, wat hy verwaand uitgesteek het, afgekap, saamgedra en by Jerusalem vertoon. 48Die volk was vol vreugde, en het daardie dag as 'n groot dag van blydskap gevier. 49Hulle het bepaal dat hierdie dag jaarliks op die dertiende dag van Adar gevier moet word. 50Toe was die land van Juda vir 'n kort rukkie rustig.