Die slang
1Die slang was slimmer en skelmer as al die wilde diere wat die Here God gemaak het. Die slang het vir die vrou gevra: “Is dit waar? Het God gesê julle mag niks van die bome in die tuin se vrugte eet nie?”
2Die vrou sê toe vir die slang: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin, 3maar God het gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie. Hy het gesê ons mag nie daaraan raak nie, want dan sal ons sterf.”
4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal nie sterf nie. Dit is seker. 5God het dit gesê omdat Hy weet dat as julle daarvan eet, dan sal julle alles verstaan. Julle sal soos God word en julle sal weet wat is goed en wat is sleg.”
Die mense is ongehoorsaam
6Die vrou het toe gekyk en gesien sy kan van die boom se vrugte eet, en dit lyk baie lekker. Sy het nou geweet die vrugte sal haar slim maak. Sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man daarvan gegee, en hy het ook geëet. 7Toe verstaan hulle alles, en hulle besef hulle is kaal. Hulle het vyeblare aanmekaar vasgewerk en hulle het daarvan kort rokke vir hulleself gemaak.
Die Here roep die mens na Hom toe
8Die mens en sy vrou het gehoor die Here God loop in die tuin. Dit was aand, en die wind het gewaai. Die mens en sy vrou het toe vir die Here God weggekruip tussen die bome in die tuin. 9Toe roep die Here God die mens en Hy vra vir hom: “Waar is jy?”
10Die mens het geantwoord: “Ek het gehoor U is in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe kruip ek weg.”
11Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het vir jou gesê jy is kaal? Het jy geëet van die vrugte wat Ek gesê het jy mag nie eet nie?”
12Die mens het gesê: “Ú het die vrou vir my gegee. Dit is sý wat vir my van die vrugte gegee het, en ek het daarvan geëet.”
13Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy gedoen?”
En die vrou sê: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”
Die Here straf die slang en die mense
14Toe sê die Here God vir die slang: “Ek vervloek jou omdat jy dit gedoen het. Al die mak diere en die wilde diere sal nie vervloek wees nie, maar jý sal vervloek wees. Jy sal op die grond seil en jy sal stof eet totdat jy doodgaan.
15“Jy en die vrou sal altyd vyande wees, en julle kinders sal ook altyd vyande wees. Haar nageslag sal probeer om jou dood te maak, en jy sal haar nageslag pik.”
16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry wanneer jy swanger is. Jy sal baie swaar kry wanneer jou kinders gebore word. Jy sal altyd jou man begeer. Jou man sal jou hoof wees.”
17Daarna het die Here God vir die mens gesê: “Jy het na jou vrou geluister en jy het geëet van die vrugte van die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. Ek het vir jou gesê jy moenie daarvan eet nie. Daarom vervloek Ek die grond waarin jy moet werk. Jy sal baie swaar kry en jy sal jou hele lewe lank hard werk om genoeg kos te kry. 18Daar sal dorings en bossies uit die grond groei, en jy sal veldplante eet. 19Jy sal hard werk en sweet om kos te kry. Jy sal aanhou werk totdat jy sterf en teruggaan na die grond, want jy kom uit die grond. Ja, jy is stof en jy sal weer stof word.”
20Die mens het sy vrou Eva genoem, want sy het die ma geword van al die mense. 21Die Here God het velle geneem en Hy het vir die mens en sy vrou klere gemaak en dit vir hulle aangetrek.
Die Here stuur die mense weg uit die tuin
22Toe sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword, want hy weet nou wat goed is en wat sleg is. Hy mag nie nou ook eet van die boom wat lewe gee nie, want dan sal hy altyd lewe.”
23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die Eden-tuin. Hy moes werk in die grond waarvan God hom gemaak het. 24Die Here God het die mens weggejaag en Hy het gerubs by die pad oos van die Eden-tuin laat wagstaan. Hulle het swaarde van vuur gehad en hulle moes keer dat die mense nie by die boom kom wat lewe gee nie.