BOEK DRIE
(Ps 73 – 89)
1'n Psalm. Van Asaf.
God is waarlik vir Israel goed,
vir hulle wat rein harte het.
2Maar ek, my voete het amper gegly
my treë was amper wankelrig.
3Want ek het verwaande mense beny;
ek het die voorspoed
van goddeloses gesien.
4Hulle het immers tot hulle dood
geen sorge nie;
en hulle liggame is vet.
5Aan die sorge van sterflinge
het hulle nie deel nie,
en hulle word nie geteister
saam met gewone mense nie.
6Daarom versier hoogmoed
hulle nekke,
bedek 'n kleed van geweld hulle.
7Van vet peul hulle oë uit,
die versinsels van hulle hart
oorskry alle perke.
8Smalend onderhandel hulle
met bose bedoelings;
uit die hoogte dreig hulle
met afpersing.
9Hulle rek hulle monde teen die hemel,
en laat hulle tonge gaan oor die aarde.
10Daarom draai sy volk hierheen.
Wie vol is,
word deur hulle uitgepers,
11en hulle sê:
“Hoe sal God dit weet?
Is daar dan kennis by die Allerhoogste?”
12Kyk, dit is hoe goddeloses is:
Immer sorgeloos vermeerder hulle
hulle rykdom.
13Ja, tevergeefs het ek my hart
rein gehou
en my hande in onskuld gewas.
14Ek is die hele dag geteister;
my kastyding was elke oggend
opnuut daar.
15As ek sou dink,
ek wil soos hulle praat,
kyk, dan sou ek ontrou wees
aan die nageslag van u kinders.
16Ek het toe probeer om dit te verstaan,
maar het dit as vermoeiend beskou,
17totdat ek in die heiligdom
van God ingegaan het.
Ek het insig gekry in hulle uiteinde.
18Waarlik, U laat hulle
op gladde plekke beland,
U bring hulle tot 'n val
oor hulle geknoei.
19Hoe word hulle in 'n oogwink
'n skrikbeeld,
hoe kom hulle volledig tot 'n einde
deur verskrikking!
20Asof dit 'n droom is
waaruit mens wakker word,
verag U hulle beeld, my Heer,
wanneer U ontwaak.
21Toe my hart verbitterd was
en my niere gepyn het,
22was ek dom en sonder begrip;
ek was 'n dier teenoor U.
23En tog was ek altyd by U;
U het my regterhand vasgehou.
24Deur die raad wat U gee, lei U my,
en daarna neem U my eervol weg.
25Wie is daar vir my in die hemel?
As ek by U is,
begeer ek niks op aarde nie.
26My liggaam en my hart
kan maar wegkwyn,
God is die rots van my hart
en my erfdeel vir altyd.
27Want kyk, dié wat ver
van U af is, gaan ten gronde;
U vernietig dié wat aan U ontrou is.
28Maar wat my betref,
die nabyheid van God is vir my goed.
Ek het my Heer, die Here,
my skuilplek gemaak,
sodat ek van al u werk kan vertel.