Psalms 54
1Vir die •musiekleier. Met snarespel. 'n Maskiel. Van Dawid. 2Toe die Sifiete gegaan en vir Saul gesê het: “Het Dawid dan nie by ons kom wegkruip nie?”
3O God, verlos my deur u Naam
en verdedig my saak deur u groot krag.
4O God, hoor my gebed;
luister na die woorde van my mond,
5want vreemdes het teen my opgestaan
en gewelddadige mense soek my lewe.
Hulle hou God nie voor oë nie. •Sela
6Kyk, God is vir my 'n helper,
my Heer is die Een
wat my lewe ondersteun.
7Hy sal my teenstanders
vir hulle kwaad vergeld.
Omdat U getrou is, vernietig hulle!
8Vrywillig wil ek offers aan U bring.
Ek wil u Naam prys, Here,
want dit is goed;
9ja, u Naam het my uit alle nood gered
en ek kon op my vyande neerkyk.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met hoofletters © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.