1Vir die •musiekleier. Van die Koragiete. 'n Maskiel.
2O God, met ons eie ore
het ons dit gehoor,
ons voorouers het ons vertel
van die dade wat U verrig het
in hulle tyd, in die ou tyd:
3U, U het met u eie hand
nasies verdryf,
maar húlle het U geplant,
U het volke geteister,
maar húlle het U laat uitbrei.
4Ja, ons voorouers het nie
met hulle swaard 'n land
in besit geneem nie;
hulle arm het nie aan hulle
die oorwinning gegee nie,
maar u regterhand en u arm
en die lig van u teenwoordigheid,
omdat U hulle goedgesind was.
5Ú is my koning, my God.
Gebied dan die verlossing van Jakob!
6Met U deurboor ons ons teenstanders;
in u Naam trap ons hulle plat
wat teen ons opstaan.
7Want dit is nie my boog
waarop ek vertrou nie,
en dit is nie my swaard
wat my verlos nie.
8Ja, U verlos ons
van ons teenstanders,
en U laat hulle wat ons haat,
beskaamd staan.
9In God roem ons die hele dag lank,
u Naam prys ons vir altyd. •Sela
10En tog het U ons verstoot en verneder;
U trek nie meer saam met ons leërs
uit nie.
11U laat ons terugdeins
vir 'n teenstander,
en ons haters plunder vir hulleself.
12U lewer ons uit soos slagvee;
onder die nasies het U ons verstrooi.
13U verkoop u volk goedkoop;
U maak geen wins
uit die verkoopprys nie.
14U maak ons 'n bespotting
vir ons bure,
die spot en hoon van hulle
rondom ons.
15U maak van ons 'n spotnaam
onder die nasies,
U laat die volke hulle koppe
skud oor ons.
16Die hele dag lank
verduur ek vernedering
en is my gesig rooi van skaamte
17oor die luide uittarting
en verguising,
oor die teenwoordigheid
van vyande en wraakgieriges.
18Dit alles het met ons gebeur,
maar ons het U nie vergeet nie;
ons het nie troubreuk gepleeg
teen u verbond nie.
19Ons harte het nie teruggedeins nie,
en ons treë het nie van u pad
afgewyk nie.
20Maar U het ons verpletter
deur van ons 'n plek te maak
waar woestynjakkalse hou;
U het ons met digte duisternis bedek.
21As ons die Naam van ons God
vergeet het,
ons hande na 'n vreemde god
uitgestrek het,
22sou God dit nie ontdek nie?
Hy is immers die Een
wat hartsgeheime ken.
23Maar ter wille van U
word ons die hele tyd vermoor,
word ons as slagvee beskou.
24Word wakker!
Waarom slaap U, my Heer?
Staan op!
Moet ons nie vir altyd verstoot nie.
25Waarom verberg U u gesig,
vergeet U ons ellende
en ons verdrukking?
26Want ons smelt weg in die stof,
ons liggame kleef aan die grond.
27Staan op! Kom ons tot hulp
en bevry ons op grond van
u troue liefde.