1'n Psalm. Van Dawid. Ter herinnering.
2Bestraf my nie in u grimmigheid nie, Here,
kasty my nie in u woede nie,
3want u pyle het my binnegedring
en u hand het op my afgekom.
4Daar is geen gesonde plek
aan my liggaam nie,
vanweë u vervloeking.
Daar is geen vrede in my gebeente nie,
vanweë my sonde.
5Ja, my sondeskuld oorweldig my,
soos 'n swaar las
is dit ondraaglik vir my.
6My wonde stink, dit sweer
vanweë my dwaasheid.
7Ek is kromgetrek, heeltemal geboë,
die hele dag loop ek in rouklere rond.
8Ja, my lende is ontsteek,
daar is geen gesonde plek
aan my liggaam nie.
9Ek is kragteloos, heeltemal verpletter,
ek kreun vanweë die onstuimigheid
van my hart.
10My Heer, al my versugtinge
lê ontbloot voor U,
en my gesug is nie vir U verborge nie.
11My hart klop wild,
my krag het my verlaat,
en die lig van my oë –
selfs dit is nie meer daar nie.
12My geliefdes en vriende
staan van my af weg
omdat ek geteister word;
wie na aan my is,
staan ver van my af.
13Hulle wat my lewe soek, stel strikke.
Hulle wat my leed wil aandoen,
dreig my met vernietiging.
Die hele dag is hulle fluisterend
aan die konkel.
14Maar ek, ek is soos 'n dowe,
ek hoor nie,
ek is soos 'n stomme
wat nie sy mond oopmaak nie.
15Ek het geword soos iemand
wat nie hoor nie,
in wie se mond daar
geen verweer is nie,
16want op U, Here, wag ek –
U moet my antwoord,
my Heer, my God.
17Ja, ek het gesê:
“Anders is hulle verheug oor my,
is hulle selfvoldaan teenoor my
wanneer my voet swik.”
18Want ek is op die punt om te val,
en van my pyn is ek altyd bewus.
19Ja, my sondeskuld bely ek,
ek is bekommerd oor my sonde.
20Maar my vyande leef,
hulle is magtig en hulle is baie,
dié wat my sonder rede haat,
21wat goed met kwaad vergeld.
Hulle kla my aan,
al streef ek die goeie na.
22Moet my nie verlaat nie, Here!
My God, moet nie ver van my af
bly nie!
23Kom my tog gou te hulp,
my Heer wat my verlos.