1'n Lied. 'n Psalm. Van Dawid.
2My hart is standvastig, o God.
Ek wil sing, ek wil lofsing,
ja, van harte.
3Word wakker, harp en lier!
Ek wil die dagbreek wakker maak.
4Ek wil U dank onder die volke, Here,
ek wil U besing onder die nasies;
5want groot, ja, hoër as die hemel,
is u troue liefde;
tot by die wolke is u waarheid.
6Verhef U bo die hemele, o God,
u heerlikheid oor die hele aarde,
7sodat u geliefdes gered kan word.
Verlos tog met u regterhand
en antwoord my.
8God self het in sy heiligdom verklaar:
“Ek wil jubel,
Ek wil Sigem verdeel,
die vallei van Sukkot
gaan Ek afmeet.
9Aan My behoort Gilead,
aan My Manasse;
Efraim is 'n beskutting
vir my kop,
Juda is my heerserstaf.
10Moab is my waskom,
op Edom gooi Ek my sandaal;
oor Filistea juig Ek.”
11Wie sal my bring na 'n versterkte stad?
Wie sal my lei tot by Edom?
12Is dit nie U, o God,
wat ons verstoot het nie?
U, o God, trek nie meer
saam met ons leërs uit nie.
13Kom ons te hulp teen teenstanders –
die hulp van mense is nutteloos.
14Met God tree ons dapper op –
Hý sal ons teenstanders vertrap.