BOEK VYF
(Ps 107 – 145)
1“Dank die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde,”
2moet hulle sê wat deur
die Here vrygekoop is,
hulle wat Hy vrygekoop het
uit die hand van teenstanders,
3en byeengebring het
uit alle lande,
uit die ooste en die weste,
uit die noorde en vanaf die see.
4Hulle het in die woestyn
rondgedwaal,
in die wildernis was hulle op pad;
'n stad, 'n woonplek,
kon hulle nie kry nie.
5Honger en dors was hulle;
die lewenskrag in hulle het weggekwyn.
6Toe het hulle in hulle nood
na die Here om hulp geroep;
uit hulle benoudheid
het Hy hulle gered.
7Hy het hulle op 'n gelyk pad gelei
om na 'n stad, 'n woonplek, te gaan.
8Hulle moet die Here prys
vir sy troue liefde,
vir sy wonders aan mensekinders;
9want Hy het die dors
van hulle kele geles,
en die honger van hulle kele
het Hy gestil met wat goed is.
10Hulle wat in donkerte
en digte duisternis gesit het,
was gevangenes in ellende
en ysterboeie,
11omdat hulle teen God se woorde
in opstand was
en die raad van die Allerhoogste
verontagsaam het.
12Hy het hulle harte deur swaarkry
nederig gemaak.
Hulle het gestruikel,
en daar was geen helper nie.
13Toe het hulle in hulle nood
na die Here om hulp geroep;
uit hulle benoudheid
het Hy hulle verlos.
14Hy het hulle uit donkerte,
uit digte duisternis gelei;
hulle boeie het Hy stukkend gebreek.
15Hulle moet die Here prys
vir sy troue liefde,
vir sy wonders aan mensekinders;
16want Hy het deure van brons
stukkend gebreek,
die sluitbalke van yster
stukkend gekap.
17Dwase het, deur hulle pad
van oortreding
en deur hulle sondeskuld,
hulle eie teistering veroorsaak.
18Aan alle kos het hulle kele gewalg,
hulle het tot by die poorte
van die dood gekom.
19Toe het hulle in hulle nood
na die Here om hulp geroep;
uit hulle benoudheid
het Hy hulle verlos.
20Hy het sy woord gestuur
en hulle genees;
Hy het hulle laat vrykom
uit hulle vangkuile.
21Hulle moet die Here prys
vir sy troue liefde,
vir sy wonders aan mensekinders.
22Hulle moet aan Hom •dankoffers bring
en met jubelkrete van sy dade vertel.
23Dié wat by die see in bote klim,
hulle wat handel dryf
op die groot waters,
24hulle het self die dade
van die Here beleef,
sy wonders op die diepwater.
25Hy het gepraat en 'n stormwind
laat opsteek;
dit het die see se golwe laat uittroon.
26Hulle het opgerys na die hemel,
afgesak na die dieptes;
in die ramp het hulle moed hulle begewe.
27Hulle het rondgeslinger,
en gesteier soos 'n dronk mens;
al hulle vernuf was waardeloos.
28Toe het hulle in hulle nood
na die Here om hulp geroep;
uit hulle benoudheid het Hy
hulle uitgelei.
29Hy het die storm stil gemaak
en die golwe het bedaar.
30Hulle was bly toe die golwe
kalm word.
Hy het hulle gelei na die hawe
waarna hulle verlang het.
31Hulle moet die Here prys
vir sy troue liefde,
vir sy wonders aan mensekinders.
32Hulle moet Hom verheerlik
in die byeenkoms van die volk,
Hom loof waar die oudstes saam sit.
33Hy het riviere verander in 'n woestyn,
waterbronne in 'n dorsland,
34vrugbare aarde in brak grond –
vanweë die boosheid van dié
wat daar woon.
35Hy het 'n woestyn verander
in 'n waterryke vleiland,
droë aarde in waterbronne.
36Hongeres het Hy daar laat woon,
hulle kon 'n stad, 'n woonplek, vestig.
37Hulle het lande gesaai
en wingerde geplant
wat die vrug van die oes gelewer het.
38Hy het hulle geseën,
hulle baie meer laat word;
hulle vee het Hy nie minder
laat word nie.
39Toe hulle minder geword
en gebuk gegaan het
onder die druk van rampe
en bekommernis,
40het Hy wat minagting uitstort
oor vooraanstaandes,
en hulle laat ronddwaal
in 'n woesteny sonder paaie,
41behoeftiges beskerm teen ellende,
en hulle familiegroepe so talryk
soos kuddes kleinvee gemaak.
42Opregtes sien dit en is verheug;
maar almal wat onreg doen,
hou hulle monde toe.
43Wie wys is, moet hierop ag slaan
en op die troue liefde van die Here let.