Elihu se betoog
1Die drie manne het toe opgehou om op Job te reageer, want in sy eie oë was hy regverdig. 2Maar Elihu, seun van Barakel, uit Bus, uit die grootfamilie van Ram, het kwaad geword. Hy was kwaad vir Job omdat hy homself verontskuldig het teenoor God. 3Elihu was kwaad vir sy drie vriende omdat hulle nie antwoorde kon vind nie, maar Job tog skuldig verklaar het. 4Elihu het sy woorde teen Job teruggehou, omdat hulle ouer as hy was. 5Toe Elihu egter sien dat daar geen antwoord kom uit die mond van die drie manne nie, het hy kwaad geword. 6Elihu, seun van Barakel, uit Bus, het toe gereageer en gesê:
“Ek is jonk, en julle is oud;
daarom was ek beskroomd en bang
om my kennis met julle te deel.
7Ek het gedink, die jare moet praat,
die baie lewensjare
moet wysheid openbaar.
8Maar dit is die gees in sterflinge
en die asem van die Almagtige
wat aan hulle insig gee.
9Dit is nie noodwendig dié
wat ryp in jare is wat wys is,
en oumense wat insig het
in wat reg is nie.
10Daarom sê ek, ‘Luister na my!
Ook ek wil my kennis deel.’
11“Kyk, ek het op julle woorde gewag;
ek het geluister na julle insig,
terwyl julle na woorde soek.
12My aandag was net by julle.
Maar kyk,
niemand kon Job teregwys nie,
niemand onder julle
kon op sy woorde antwoord nie.
13Julle moet nou net nie sê,
‘Ons het wysheid teëgekom.
Net God kan van hom ontslae raak,
nie 'n mens nie.’
14Hy het nie argumente
teen my aangevoer nie;
met julle woorde sal ek
hom nie antwoord nie.
15“Hulle is skoon verskrik,
hulle antwoord nie meer nie;
woorde ontwyk hulle.
16Sou ek dan wag
as hulle nie praat nie,
as hulle maar net daar staan,
nie meer antwoord nie?
17Ook ek sal op my beurt 'n antwoord gee,
ook ek sal my kennis deel.
18Want ek is vol woorde,
die gees in my binneste dwing my.
19Kyk, my binneste is
soos wanneer wyn
nie oopgemaak word nie;
soos nuwe leersakke wil dit oopbars.
20Ek moet praat en verligting kry,
my mond oopmaak en reageer.
21Ek mag vir niemand
partydig wees nie,
en ek sal mense nie vlei nie,
22want ek weet nie hoe om te vlei nie;
my Maker sou my gou verwyder.