1“Ek het 'n verbond met my oë gesluit –
hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie?
2Watter erfdeel is daar
van God daar bo,
watter erfenis van die Almagtige
in die hoogtes?
3Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener,
en rampe vir wie onreg pleeg nie?
4Sien Hy dan nie my paaie nie;
en al my treë, tel Hy dit nie?
5As ek vals sou optree,
en my voete hulle na bedrog haas –
6laat God my dan weeg
op 'n onvervalste skaal,
sodat Hy van my onberispelike
optrede kan kennis neem.
7As my voetstappe sou afwyk van die pad,
as my hart my oë gevolg het,
en daar aan my handpalms
'n smet gekleef het,
8laat ek dan maar saai
en laat 'n ander dit eet,
laat wat vir my uitspruit,
ontwortel word.
9As my hart hom laat verlei het by 'n vrou,
ek by die deur van my medemens op loer was,
10laat my vrou dan
vir iemand anders meel maal;
laat ander mans oor haar buig.
11Want dit is 'n skanddaad,
dit is strafbare sondeskuld;
12ja, dit is 'n vuur wat tot in
die onderwêreld verteer;
dit sou my hele oes ontwortel.
13As ek die regte van my slaaf
en slavin misken het
in hulle geskil met my,
14wat sal ek dan doen as God opstaan?
En as Hy my tot verantwoording roep,
wat sal ek antwoord?
15Het Hy, wat my
in die moederskoot gemaak het,
hulle nie ook gemaak nie?
Het Een ons nie in die baarmoeder
voorberei nie?
16As ek armes dit
wat hulle begeer, ontsê het,
die oë van 'n weduwee
laat verdof het,
17my stukkie brood alleen geëet het,
en as vaderlose kinders
nie daarvan geëet het nie
18– van my jeug af
het hulle immers by my
grootgeword soos by 'n vader,
en van die moederskoot af
het ek weduwees gelei –
19as ek 'n sukkelaar sou sien
sonder 'n bokleed,
of 'n behoeftige sonder
enige bedekking,
20as sy lyf nie dankbaar sou wees
teenoor my,
hy hom nie met die skeersel
van my jongskaap
sou warm maak nie,
21as ek my hand
teen 'n vaderlose kind gelig het,
omdat ek in die stadspoort
gemerk het dat ek
ondersteuning geniet,
22kan my bo-arm
maar uit die skouer val,
my voorarm maar
uit die elmboog gebreek word.
23Want die teenspoed
wat van God kom,
is vir my 'n verskrikking;
teen sy majesteit
is ek nie opgewasse nie.
24As ek my vertroue gestel het in goud,
vir fyngoud gesê het,
‘My veilige toevlug!’
25as ek my verbly het
oor my groot rykdom,
ja, omdat my hande
geweldig baie bereik het;
26as ek na die son gekyk het
hoe dit skyn,
en na die maan
wat met grootsheid beweeg,
27sodat my hart in die geheim verlei is,
en my hand na my mond gebring is vir 'n soen,
28sou dit ook 'n strafbare sondeskuld wees,
omdat ek God daarbo sou verloën.
29As ek my verheug het
oor die rampspoed
van die een wat my haat,
of uitbundig was toe die ellende
hom getref het,
30het ek nie my mond
toegelaat om sonde te doen
deur sy lewe te eis
met 'n vervloeking nie.
31As die manne van my
huishouding darem nie gesê het nie,
‘Wie kan iemand uitwys
wat nie van sy vleiskos
versadig is nie?’!
32'n •Vreemdeling sou nie
buite oornag nie;
my deure na die pad toe
het ek altyd oopgehou.
33As ek, soos ander mense,
my oortredinge verberg het
deur my sondeskuld
in my binnesak weg te steek,
34omdat ek bang was
vir 'n groot menigte,
en die minagting
van familiegroepe my afgeskrik het,
dan sou ek swyg,
sou ek nie by die deur uitgaan nie.
35“As daar maar iemand was
wat na my luister!
Hier is my teken.
Die Almagtige
moet my antwoord!
As daar maar 'n klagskrif was
wat my teenstander geskryf het,
36sou ek dit beslis op my skouer
gedra het,
as 'n kosbare hoofband
sou ek dit vir my ombind.
37Ek sou die getal van my treë
aan Hom voorhou,
soos aan 'n •leier
sou ek dit aan Hom voorlê.
38As my grond teen my om hulp geroep het,
die ploegvore saam getreur het,
39as ek die opbrengs daarvan
geniet het sonder betaling,
en as ek die bewerkers daarvan
laat kreun het,
40laat daar dan in die plek
van koring sydissels uitspruit,
in die plek van gars, broodblom.”
Hier eindig die woorde van Job.