Jeremia se profesie in die tempel
1Aan die begin van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die Here gekom: 2“So sê die Here, ‘Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here, en sê vir al die stede van Juda wat kom om in die huis van die Here in aanbidding te buig, al die woorde wat Ek jou beveel het om vir hulle te sê. Moenie een woord weglaat nie. 3Miskien sal hulle luister en omdraai, elkeen weg van sy verkeerde pad. Dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen vanweë hulle bose dade. 4 Sê vir hulle: “So sê die Here, ‘As julle nie na My luister nie – deur te leef volgens my wet wat Ek aan julle voorgehou het, 5en deur te luister na die woorde van my knegte, die profete, hulle wat Ek aanhoudend na julle stuur selfs al luister julle nie – 6sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en sal Ek hierdie stad 'n voorbeeld maak om as vervloeking te dien vir al die nasies van die wêreld.’ ” ’ ”
7Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor sê in die huis van die Here. 8Net toe Jeremia klaar alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir die hele volk te sê, het die priesters, die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: “Jy moet beslis sterf! 9Waarom het jy in die Naam van die Here geprofeteer, ‘Soos Silo sal hierdie huis word, en hierdie stad sal 'n puinhoop wees, sonder inwoners’?” Die hele volk het toe teen Jeremia saamgekom in die huis van die Here.
10Toe die •hoë amptenare van Juda hierdie woorde hoor, het hulle van die paleis van die koning af opgegaan na die huis van die Here, en hulle het gaan sit by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here. 11Die priesters en profete sê toe vir die hoë amptenare en die hele volk: “Hierdie man moet die doodsvonnis kry, want hy het teen hierdie stad geprofeteer, soos julle met julle eie ore gehoor het.” 12Jeremia het egter al die hoë amptenare en die hele volk geantwoord: “Dit is die Here wat my gestuur het om teen hierdie huis en hierdie stad al die woorde wat julle gehoor het, te profeteer. 13Daarom, laat julle doen en late goed wees, en luister na die stem van die Here julle God, sodat die Here berou kan hê oor die onheil wat Hy oor julle aangekondig het. 14En wat my betref – kyk, ek is in julle hande, maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. 15Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, bring julle onskuldige bloed oor julleself en oor hierdie stad en haar inwoners; want die waarheid is dat die Here my na julle gestuur het om ten aanhore van julle almal al hierdie woorde uit te spreek.”
16Toe sê die hoë amptenare en die hele volk vir die priesters en profete: “Hierdie man moet nie die doodsvonnis kry nie, want dit is in die Naam van die Here ons God dat hy met ons gepraat het.”
17Manne uit die oudstes van die land het toe opgestaan en vir die hele byeenkoms van die volk gesê: 18“Miga van Morêset het as profeet opgetree in die dae van Hiskia, koning van Juda. Hy het met die hele volk van Juda gepraat en gesê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Sion sal soos 'n stuk land omgeploeg word, Jerusalem sal puinhope word, en die tempelberg 'n oorgroeide heuwel.” ’ 19Het Hiskia, koning van Juda, en die hele Juda hom toe wel doodgemaak? Het Hiskia nie ontsag vir die Here gehad en die guns van die Here gesoek nie? En het die Here nie berou gehad oor die onheil wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om groot onheil oor onsself te bring.”
20Daar was ook 'n man wat in die Naam van die Here geprofeteer het, Uria, seun van Semaja, uit Kirjat-Jearim. Hy het teen hierdie stad en teen hierdie land profesieë uitgespreek wat ooreenkom met al die woorde van Jeremia. 21Toe koning Jojakim en al sy keurtroepe en die •aanvoerders sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uria het dit te hore gekom, bang geword, gevlug en in Egipte aangekom. 22Koning Jojakim het toe manne na Egipte gestuur; hy het Elnatan, seun van Agbor, en ander manne saam met hom, na Egipte gestuur. 23Hulle het Uria uit Egipte geneem en hom na koning Jojakim gebring. Dié het hom met die swaard neergevel en sy lyk in die begraafplek van gewone mense gegooi.
24Maar Agikam, seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgelewer is in die hand van die volk, en hulle hom nie kon doodmaak nie.