1“Kyk, hier is my Dienskneg
wat Ek ondersteun,
my Uitverkorene in wie
my binneste vreugde vind.
Ek het my Gees op Hom laat kom;
Hy sal reg vir die nasies laat deurbreek.
2Hy sal nie om hulp roep
en nie uitroep nie.
Hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie.
3'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie,
'n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie;
in getrouheid sal Hy reg laat deurbreek.
4Hy sal nie weifel
en nie geknak word nie,
totdat Hy reg op die aarde gevestig het;
op sy lering wag die eilande.”
5So sê die ware God, die Here,
wat die hemel geskep
en oopgespan het,
wat die aarde uitgebrei het,
en dit wat daaruit voortkom,
wat asem gee aan die mense daarop,
lewensasem aan wie daarop beweeg:
6“Ek, die Here, het Jou geroep
met die oog op geregtigheid;
Ek sal jou hand vasgryp,
Jou bewaar en Jou bestem
tot 'n verbond vir die volk,
tot 'n lig vir die nasies –
7om blinde oë oop te maak,
om gevangenes
uit die kerker te lei,
om hulle wat in donkerte sit,
uit die tronk te lei.
8Ek is die Here, dit is my Naam.
My heerlikheid sal Ek nie afstaan
aan 'n ander nie,
my roem nie aan gesnede beelde nie.
9Die dinge van vroeër –
kyk, dit het gebeur;
en die nuwe dinge –
Ek kondig dit aan,
voordat dit uitspruit,
laat Ek julle daarvan hoor.”
10Sing vir die Here 'n nuwe lied,
besing sy roem van die einde
van die aarde af,
julle wat die see bevaar,
en alles wat in die see is,
ook die eilande en hulle bewoners.
11Laat die woestyn en sy dorpe
hulle stem verhef,
die gehuggies waar Kedar woon.
Laat die inwoners van Sela jubel,
hardop roep van die bergkruine af.
12Laat hulle aan die Here eer gee,
sy roem op die eilande bekend maak.
13Die Here, soos 'n held trek Hy uit,
soos 'n krygsman wakker Hy die krygslus aan.
Hy roep die strydkreet,
ja, Hy skreeu die oorlogskreet uit;
aan sy vyande betoon Hy Homself
as die magtige.
14“Ek het lank stilgebly,
My stil gehou, My bedwing.
Soos 'n vrou wat geboorte gee, kreun Ek;
Ek hyg en snak tegelyk na asem.
15Ek lê berge en heuwels droog,
al die plantegroei daarop laat Ek verdor.
Ek laat eilande in riviere ontstaan;
Ek laat vleilande opdroog.
16Ek laat blindes gaan op 'n weg
wat hulle nie ken nie;
op paaie wat hulle nie ken nie,
laat Ek hulle loop.
Ek maak die duisternis voor hulle lig,
die ongelyk plekke maak Ek gelyk.
Dit is die beloftes –
Ek voer dit uit,
Ek laat dit nie na nie.
17Hulle sal terugdeins,
en hulle sal grootliks beskaamd staan –
dié wat op afgodsbeelde vertrou,
wat vir gegote beelde sê,
‘Julle is ons gode!’
18“Dowes, luister!
Blindes, kyk, sodat julle kan sien!
19Wie is blind, behalwe
my dienskneg,
en doof, soos my boodskapper
wat Ek stuur?
Wie is blind soos die een
wat vergelding ontvang het,
en blind soos die dienskneg
van die Here?
20Jy het baie dinge gesien,
maar nie daaraan aandag gegee nie.
Die ore is oop,
maar hy luister nie.”
21Ter wille van sy geregtigheid,
het die Here behae daarin
om sy wet as groot en glorieryk te laat geld.
22Maar dié is 'n geplunderde
en beroofde volk.
Hulle is almal vasgekeer in gate,
en in tronke word hulle weggesteek.
Hulle het buit geword,
en daar is niemand wat kan red nie;
hulle is 'n beroofde volk,
en niemand sê, “Gee terug!” nie.
23Wie onder julle
gee hieraan aandag,
slaan daarop ag en hoor dit
met die oog op die toekoms?
24Wie het Jakob as buit oorgegee,
en Israel aan die plunderaars?
Is dit nie die Here nie,
Hy teen wie ons gesondig het?
Hulle wou nie op sy paaie loop nie,
en het nie na sy wet geluister nie.
25Hy het sy brandende toorn
en die geweld van oorlog oor hulle uitgestort.
Dit het hulle aan alle kante geskroei,
maar hulle het dit nie besef nie.
Dit het hulle gebrand,
maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.