Profesie oor Jerusalem se herstel
1“Troos, troos my volk!”
sê julle God.
2“Praat mooi met Jerusalem!
Roep haar toe dat haar
gedwonge arbeid voltooi is,
dat haar skuld afbetaal is!
Ja, sy het uit die hand van die Here
'n dubbele straf ontvang
vir al haar sondes.”
3'n Stem roep:
“Maak in die woestyn
die pad van die Here gereed;
maak in die Araba
'n grootpad vir ons God gelyk.
4Elke dal moet opgevul word,
en elke berg en heuwel
moet wegsak.
Hobbelrige plekke
moet gelyke grond word,
en rotsagtige terrein
moet 'n vallei word.
5Die heerlikheid van die Here
sal geopenbaar word;
alle mense sal dit gelyktydig sien,
want die mond van die Here
het gespreek.”
6'n Stem sê toe: “Roep uit!”
En ek vra: “Wat moet ek uitroep?
Alle mense is immers gras;
en al hulle trou is soos 'n veldblom.
7Gras verdor, 'n blom verwelk
wanneer die asem van die Here
daarop blaas.
Waarlik, die volk is maar net gras!”
8“Ja, gras verdor,
'n blom verwelk,
maar die woord van ons God
hou stand vir altyd.”
9Klim op 'n hoë berg, Sion,
boodskapper van vreugde!
Verhef jou stem met krag, Jerusalem,
boodskapper van vreugde!
Verhef dit, moenie bang wees nie!
Sê vir die dorpe van Juda:
“Hier is julle God!”
10Kyk, my Heer, die Here –
met krag kom Hy,
en sy arm oefen vir Hom
heerskappy uit.
Kyk, sy vergoeding is by Hom,
sy beloning is voor Hom.
11Soos 'n herder
laat Hy sy kudde wei;
in sy arms maak Hy
lammers bymekaar;
teen sy bors dra Hy hulle;
die lammerooie lei Hy.
12Wie kan die waters in die holte
van sy hand afmeet,
die hemel met sy handspan peil,
met 'n derde van 'n efa
die stof van die aarde opvang,
met 'n handskaal die berge weeg,
die heuwels met 'n weegskaal?
13Wie kan die Gees
van die Here peil,
wie is die mens wat aan Hom
sy raadsbesluit bekend maak?
14Met wie beraadslaag Hy,
en wie hou Hom op hoogte,
wie onderrig Hom oor die verloop
van 'n regsaak?
Wie dra aan Hom kennis oor,
en die pad van wyse beskikking,
wie maak dit aan Hom bekend?
15Kyk, nasies is soos 'n druppel
uit 'n leersak;
hulle word beskou as net
'n lagie stof op 'n weegskaal.
Kyk, eilande weeg Hy
asof dit fyn stof is.
16Die Libanonbos se hout
is nie genoeg
om 'n vuur te maak,
en sy wilde diere nie genoeg
vir 'n •brandoffer nie.
17Al die nasies is soos niks
voor Hom;
deur Hom word hulle beskou as
minder as iets niksseggends,
minder as 'n nietigheid.
18Met wie wil julle God vergelyk?
Watter afbeelding wil julle
langs Hom stel?
19'n Afgodsbeeld wat 'n vakman
gegiet het,
wat 'n smid met goud
oorgetrek het,
'n smid met silwer beslaan het?
20As 'n wydingsgeskenk
kies mens ebbehout,
hout wat nie verrot nie.
'n Vaardige vakman
soek hy vir hom
om 'n afgodsbeeld te maak
wat nie omkantel nie.
21Weet julle nie?
Hoor julle nie?
Is dit nie van die begin af
aan julle bekend gemaak nie?
Het julle nie begrip van die aarde
se fondamente nie?
22Dit is Hy wat troon
bo die ronde skyf van die aarde;
die bewoners daarvan
is soos koringkrieke.
Dit is Hy wat die hemel oopspan
soos 'n doek,
dit oopsprei soos 'n tent,
sodat mense daar kan woon.
23Dit is Hy wat maghebbers
tot niks maak;
die regeerders van die aarde
maak Hy 'n nietigheid.
24Skaars is hulle geplant,
skaars is hulle gesaai,
skaars skiet hulle steggies
wortel in die grond,
of Hy het reeds op hulle geblaas,
en hulle verdor;
dan lig 'n stormwind hulle op
soos strooi.
25“Met wie wil julle My vergelyk,
sodat Ek net soos hulle sal wees?”
vra die Heilige.
26Kyk boontoe en sien!
Wie het hierdie dinge geskep?
Dit is Hy wat die hemelse leër
een vir een uitlei,
hulle almal op die naam roep.
Deur die toedoen van Hom
wat groot vermoëns
en geweldige krag het,
ontbreek nie een nie.
27Waarom sê jy dan, Jakob,
en beweer jy, Israel:
“My lewenspad is verborge
vir die Here,
my reg gaan by my God verby”?
28Weet jy dit nie?
Het jy dit nie gehoor nie?
'n Ewige God is die Here,
Skepper van die eindes
van die aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie –
ondeurgrondelik is sy insig.
29Dit is Hy wat vermoeides krag gee,
wat lewenskrag vermeerder
vir dié wat geen vermoëns het nie.
30Jong seuns word moeg
en raak afgemat;
jong manne struikel en val.
31Maar wie op die Here wag,
herwin hulle krag;
hulle kry nuwe vere soos arende.
Hulle hardloop,
maar raak nie afgemat nie,
hulle loop,
maar word nie moeg nie.