Levitikus 3
Maaltydoffers
1“ ‘As iemand se offer 'n •maaltydoffer is wat uit die beeste kom, moet hy 'n bul of 'n koei sonder gebrek bring. Hy moet dit voor die Here bring 2en sy hand op die kop van sy offer lê. Dan moet hy dit keelaf sny by die ingang van die •Tent van Ontmoeting en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 3Van die maaltydoffer moet hy vir die Here 'n offergawe bring: die vet wat die binnegoed bedek en al die vet aan die binnegoed, 4sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. 5Die seuns van Aäron moet dit op die altaar verbrand bo-op die •brandoffer wat op die hout op die vuur op die altaar is. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here.
6“ ‘As sy offer 'n maaltydoffer is wat uit die kleinvee kom, dan moet dit 'n ram of 'n ooi sonder gebrek wees wat hy vir die Here bring. 7As dit 'n skaap is wat hy as sy offer bring, moet hy dit voor die Here bring 8en sy hand op die kop van sy offer lê. Hy moet dit keelaf sny voor die Tent van Ontmoeting. Die seuns van Aäron moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 9Hy moet die vet van die maaltydoffer as 'n offergawe aan die Here bring. Hy moet die hele vetstert tot teen die stuitjie verwyder, asook die vet wat die binnegoed bedek en al die vet wat aan die binnegoed is, 10sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. 11Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is voedsel, 'n offergawe aan die Here.
12“ ‘As sy offer 'n bok is, moet hy dit voor die Here bring 13en sy hand op die dier se kop lê. Hy moet dit voor die Tent van Ontmoeting keelaf sny en die seuns van Aäron moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 14'n Deel van sy offer moet hy as offergawe aan die Here bring: die vet wat die binnegoed bedek en ook al die vet aan die binnegoed, 15sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. 16Die priester moet dit alles op die altaar verbrand. Dit is voedsel, 'n offergawe met 'n aangename geur. Al die vet behoort aan die Here. 17Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon: Julle mag geen vet of bloed eet nie.’ ”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.