Ananias en Saffira
1Daar was 'n man, sy naam was Ananias. Sy vrou se naam was Saffira. Hulle het ook 'n stuk grond verkoop. 2Ananias het 'n deel van die geld vir homself gehou. Sy vrou het geweet dat hy die geld gehou het. Toe het Ananias die geld gebring wat oorgebly het en hy het dit vir die apostels gegee. 3Petrus het vir hom gesê: “Ananias, hoekom het jy geluister na die Satan? Hoekom het jy gesê hy mag oor jou hart regeer? Hoekom het jy vir die Heilige Gees gelieg? Want jy het gemaak of jy al die geld bring, maar jy het 'n deel van die geld vir jouself gehou. 4Die grond was altyd jou grond. En nadat jy dit verkoop het, kon jy met die geld maak wat jy wou. Hoekom het jy besluit om hierdie verkeerde ding te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, jy het vir Gód gelieg.”
5Toe Ananias dit hoor, het hy gesterf en op die grond geval. En almal wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. 6Die jongmanne het toe gekom, hulle het hom toegedraai en hom uitgedra en gaan begrawe.
7Ná omtrent drie uur het Ananias se vrou daar aangekom. Sy het nie geweet wat gebeur het nie. 8Petrus sê toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond verkoop vir soveel geld soos Ananias gesê het?”
Sy sê toe: “Ja, dit is hoeveel geld ons gekry het.”
9Petrus het vir haar gesê: “Hoekom het jy en jou man saam besluit om die Gees van die Here te toets? Kyk, die jongmanne wat jou man begrawe het, staan hier by die deur en hulle sal jou ook uitdra.”
10Sy het dadelik gesterf en sy het by Petrus se voete op die grond geval. Toe die jongmanne inkom en sien dat sy dood is, het hulle haar uitgedra en hulle het haar by haar man begrawe. 11Die hele gemeente en almal wat dit gehoor het, het baie bang geword.
Wonderlike dinge gebeur
12Die Here het die apostels baie tekens en wonderwerke laat doen by die mense. En al die gelowiges het baie maal bymekaargekom in die Pilaargang van Salomo. 13Die ander mense was 'n bietjie bang om saam met die gelowiges te aanbid. Maar hulle het die gelowiges gerespekteer. 14Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue. 15Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val. 16Baie mense het ook van die stede rondom Jerusalem gekom. Hulle het hulle siek mense gebring en ook die mense wat onrein geeste in hulle gehad het, en die Here het hulle almal gesond gemaak.
Die Joodse leiers doen slegte dinge aan die apostels
17Toe het die hoëpriester en die hele groep wat saam met hom regeer het, baie jaloers geword. Hulle was Sadduseërs. Hulle het besluit om iets sleg te doen aan die gelowiges. 18Hulle het die apostels gevang en in die tronk gesit waar die gewone gevangenes was. 19Maar 'n engel van die Here het in die nag gekom. Hy het die deure van die tronk oopgemaak en hy het die apostels na buite gelei. 20Hy het vir die apostels gesê: “Gaan staan in die tempel en preek vir die mense alles wat hulle moet hoor van Jesus, sodat hulle waarlik kan lewe.”
21Die apostels het gedoen wat die engel gesê het. Hulle het baie vroeg die volgende oggend na die tempel gegaan en vir die mense geleer.
Die hoëpriester en die mense wat saam met hom regeer het, het toe gesê al die mense van die Joodse Raad en al die familieleiers van Israel moet bymekaarkom en hulle moet vergadering hou. Hulle het toe wagte na die tronk gestuur om die apostels te gaan haal. 22Maar toe die wagte by die tronk kom, het hulle gesien die apostels is nie daar nie. Hulle het teruggekom en hulle het dit vir die Joodse leiers vertel. 23Hulle het gesê: “Toe ons by die tronk kom, was die tronk gesluit. Al die deure was toegesluit, en die wagte het by die deure gestaan. Maar toe ons die deure oopmaak, was daar niemand binne nie.”
24Toe die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die priesterleiers dit hoor, was hulle baie verbaas. Hulle het gewonder wat gebeur het. 25Toe kom daar iemand en hy sê vir hulle: “Weet julle wat gebeur het? Die manne wat in die tronk was, staan in die tempel en hulle leer vir die mense.”
26Die offisier en die wagte het toe die apostels gaan haal. Hulle was nie kwaai met die apostels nie, want hulle was bang dat die mense hulle met klippe sal gooi. 27Hulle het die apostels gebring en hulle het die apostels voor die Joodse Raad laat staan. Die hoëpriester het hulle begin uitvra. 28Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.”
29Petrus en die apostels het geantwoord en gesê: “Ons moet meer gehoorsaam wees aan God as aan mense. 30Julle het vir Jesus doodgemaak toe julle Hom aan die kruis opgehang het, maar toe het die God van ons voorvaders vir Jesus weer laat lewe. 31God het vir hierdie Jesus die Leier en Redder gemaak. God het vir Jesus gesê Hy moet op die belangrikste plek langs God kom sit sodat die mense van Israel kan verander en kan lewe soos God wil hê en sodat Hy hulle sonde kan vergewe. 32Ons is getuies dat hierdie dinge gebeur het. God het die Heilige Gees gegee aan die mense wat luister na God, en die Heilige Gees getuig ook dat dit alles waar is.”
33Die Joodse leiers het baie kwaad geword toe hulle dit hoor, en hulle het besluit om die apostels dood te maak. 34Toe het iemand van die Joodse Raad opgestaan. Sy naam was Gamaliël. Hy was 'n Fariseër en 'n skrifgeleerde, en al die mense het hom gerespekteer. Hy het gesê dat die wagte die apostels 'n klein tydjie buite moet laat staan. 35Gamaliël het toe vir die Joodse Raad gesê: “Vriende, Israeliete, julle moet oppas. Julle moet dink oor wat julle aan hierdie manne wil doen. 36Julle weet dat daar 'n tyd gelede iemand was, sy naam was Teudas. Hy het vir die mense gesê dat hy baie belangrik is. Omtrent 400 manne het hom gevolg. Maar die regering het hom laat doodmaak en hulle het die manne wat hom gevolg het, na al die kante toe gejaag. Ons het nie weer gehoor van Teudas en die manne wat hom gevolg het nie. 37Ná Teudas het Judas die Galileër opstandig geword teen die regering. Dit was in die tyd toe die regering die mense van die land getel het. Judas het gesê die mense moet saam met hom opstandig word. Maar die regering het ook vir Judas laat doodmaak, en hulle het almal wat vir Judas gevolg het, na al die kante toe gejaag. 38En nou praat ek oor die dinge wat nóú gebeur. Hierdie manne maak planne en hulle is besig om dinge te doen, maar ek sê vir julle: Julle moet wegbly van hierdie manne, los hulle. Want as hulle planne en die dinge wat hulle doen, net van ménse kom, dan beteken dit niks. 39Maar as dit Gód is wat dit doen, dan sal julle nie vir hulle kan keer nie. Julle sal miskien later besef dat julle teen God baklei het.”
Die Joodse Raad het geluister na Gamaliël. 40Hulle het gesê dat die apostels weer moet inkom na hulle toe. Hulle het die apostels geslaan en gesê dat hulle nie mag preek oor Jesus nie. Toe het hulle die apostels laat gaan. 41Die apostels het weggegaan van die Joodse Raad. Hulle was baie bly dat die Here besluit het dat dit húlle is wat moet swaarkry omdat hulle aan Jesus behoort. 42Hulle het aangehou om elke dag in die tempel en by die huise vir die mense te leer en om die goeie boodskap te bring dat Jesus die Christus is.