Petrus en Johannes getuig voor die Joodse Raad
1Petrus en Johannes was besig om met die mense te praat. Toe kom die priesters en die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die Sadduseërs daar aan. 2Hulle was baie kwaad en ontsteld omdat Petrus en Johannes vir die mense geleer en vertel het dat as jy in Jesus glo, dan sal jy weer lewe nadat jy gesterf het. 3Hulle het toe vir Petrus en Johannes gevang en hulle het hulle in die tronk gesit tot die volgende dag, want dit was al klaar donker. 4Maar baie van die mense wat gehoor het wat Petrus en Johannes sê, het begin glo. Hulle het net die mans getel, en daar was omtrent 5 000 mans.
5Die volgende dag het die Jode se leiers en familieleiers en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaargekom. 6Annas die hoëpriester, Kajafas, Johannes, Aleksander, en al die ander mans wat familie was van die hoëpriester, was ook daar. 7Hulle het vir Petrus en Johannes in die middel laat staan en het vir hulle gevra: “Wie se krag of wie se naam het julle gebruik toe julle die lam man gesond gemaak het?”
8Die Heilige Gees het toe in Petrus gekom, en Petrus het gesê: “Leiers van die volk en familieleiers, 9julle beskuldig ons vandag omdat ons iets goed gedoen het vir 'n siek man, omdat ons iets gedoen het wat hierdie man gesond gemaak het. 10Julle almal, en die hele volk Israel, moet weet dat Jesus Christus van Nasaret hierdie man gesond gemaak het, daarom staan die man nou hier voor julle. Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het Hom weer laat lewe. 11Hierdie Jesus is
“die klip, en julle is die bouers,
julle het hierdie klip weggegooi,
maar hierdie klip
het die belangrikste klip
in die hele gebou geword.
12“Net Jesus kan ons red, niemand anders nie. God het nie 'n ander naam op die aarde vir die mense gegee wat ons kan red nie, Hy wil hê die Naam van Jesus moet ons red.”
13Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was. 14Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie. 15Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat. 16Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle 'n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie. 17Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.”
18Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie. 19Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit. 20Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.”
21Die Joodse leiers het vir Petrus en Johannes nog meer gewaarsku en hulle het hulle toe laat gaan. Want die leiers het nie geweet hoekom hulle vir Petrus en Johannes moet straf nie. En die leiers was ook bang vir die mense, want almal het God geprys oor wat gebeur het. 22Hulle het ook vir Petrus en Johannes laat weggaan omdat die man wat gesond geword het, meer as 40 jaar oud was. Dit was 'n wonderteken dat die man gesond geword het.
Die gelowiges bid baie ernstig
23Petrus en Johannes kon toe huis toe gaan. Hulle het na die ander gelowiges toe gegaan en hulle het vir die gelowiges alles vertel wat die priesterleiers en die familieleiers vir hulle gesê het. 24Toe die gelowiges dit hoor, het hulle saam ernstig tot God gebid en gesê: “Here, U het die hele wêreld gemaak: die hemel, die aarde, die see, en ook alles in die wêreld. 25U het met die Heilige Gees gepraat, en die Heilige Gees het met u dienaar Dawid, ons voorvader, gepraat, en toe het Dawid geskryf:
“Hoekom het die heidene geraas?
Hoekom het hulle planne gemaak
wat niks sal help nie?
26Die konings van die aarde
het opstandig geword,
en die mense wat regeer,
het bymekaargekom
en planne gemaak
teen die Here en teen
sy gesalfde.
27“Want dit is wat regtig in hierdie stad gebeur het. Koning Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk Israel bymekaargekom teen u heilige Dienaar Jesus. U het Hom gesalf. 28Hulle het gedoen wat U lank gelede besluit het. En wat U besluit het, sal gebeur. 29Here, hulle hou aan om te sê dat hulle ons sal straf. U moet nou vir ons, u dienaars, help sodat ons nie bang sal wees om u boodskap te bring nie. 30U moet ook aanhou om mense gesond te maak, en U moet tekens en wonderwerke laat gebeur wanneer die apostels die Naam noem van u heilige Dienaar Jesus.”
31Toe hulle klaar gebid het, het God die plek laat skud waar hulle bymekaar was. Die Heilige Gees het in almal gekom en hulle het toe die boodskap van God gebring, hulle was nie bang nie.
Die gelowiges deel alles met mekaar
32Baie mense het begin glo en hulle het almal dieselfde gedink en gevoel. Niemand het gesê dat sy goed net sy eie goed is nie, nee, hulle het alles gedeel met mekaar. 33Die apostels het ernstig getuig dat die Here Jesus gesterf het, maar dat Hy weer lewe. En God was baie goed vir hulle almal. 34Want niemand van hulle het te min gehad nie. Die mense wat grond of huise gehad het, het dit verkoop, en dan het hulle die geld gebring 35en dit vir die apostels gegee. Die apostels het dit uitgedeel vir elkeen wat iets nodig gehad het.
36Daar was 'n man, sy naam was Josef. Die apostels het hom Barnabas genoem. Barnabas beteken “Iemand wat ander mense bemoedig.” Hy was 'n Leviet, hy het van die eiland Siprus gekom. 37Hy het 'n stuk grond gehad en hy het dit verkoop. Toe bring hy die geld en hy gee dit vir die apostels.