Wandel met God – Dag 3
Wandel met God – die belangrikheid om gefokus te bly: Lot
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 2
Ligdraers in die wêreld
GENESIS 13
GENESIS 19
GENESIS 19
GENESIS 19
“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:12-13
Ouers waarsku gewoonlik hulle kinders om soet te wees wanneer hulle alleen gelaat word. Paulus gee net soos ʼn goeie ouer dieselfde opdrag aan die Filippense. Hy weet hoe belangrik dit vir ʼn mens is om op ʼn onafhanklike manier die regte keuses vir oorlewing en verlossing te maak, en dat elkeen uiteindelik vir sy eie keuses verantwoordelik is.
In hierdie konteks mag dit vir baie mense vreemd lyk om na Lot se lewe te kyk, aangesien hy sy oorleweing en verlossing lank voor Paulus uitgeleef het. Maar dit is Jesus self wat Lot se situasie as ʼn voorbeeld gebruik het om te verduidelik wat gaan gebeur op dié dag wat Hy gaan terugkeer (Lukas 17:28-32) en daarom besef ons hoe belangrik dit is om God se doel met Lot en sy onvolmaakte lewe te verstaan.
Lot was baie soos ons: ʼn persoon op ʼn lewensreis met al sy seëninge, probleme en keuses. Toe Abram hom die keuse gegee het om eerste die land te kies, het hy dit gedoen vir eie gewin: “Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ʼn tuin van die Here, soos Egipte (…) Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit. So het die twee van mekaar geskei.” (Genesis 13:10a-11) Hy het egter nie goeie oordeel aan die dag gelê oor die gebied wat hy gekies het nie en hy het tot by Sodom gaan tent opslaan waar die inwoners sleg was en baie teen die Here gesondig het.
Alhoewel hy daar sakesukses behaal en ʼn prominente inwoner geword het, het sy selfgesentreerdheid hom gereeld aan die sondige omgewing blootgestel, waar hy stadig maar seker sy waardes begin verloor het. Hoe weet ons dat sy geestelike lewe nie meer so belangrik vir hom was nie? Hy was gewillig om die kuisheid van sy twee dogters prys te gee toe die mans in die stad gewelddadig geraak het en seksuele bevrediging geëis het van die twee engele wat in Lot se huis was en deur God gestuur is om Sodom te vernietig.
Dit is dus nie ʼn verrassing dat Lot geen geloofwaardigheid onder die mans van Sodom gehad nie: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel.” (Genesis 19:9) Dieselfde geld ook sy verhouding met sy toekomstige skoonseuns: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg” (Genesis 19:14), maar hulle het gedink Lot maak ʼn grap.
Selfs toe daar van hom verlang is om die belangrike keuse te maak om te vertrek, klou hy steeds vas aan dit wat hy moet opgee, vasgevang in oorvloed en ʼn onvermoë om toe te gee. Dit was slegs God se genade wat hom en sy gesin van vernietiging gered het: “Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm.” (Genesis 19:16)
Die storie eindig egter nie hier nie. Alhoewel Lot ontsnap het danksy God se uiterste geduld met hom, is dit egter duidelk dat sy keuses wat daarna volg, steeds vir hom in ʼn onbenydenswaardige posisie plaas. Wat egter wonderlik is, is dat God in sy genade steeds sy goedheid deur die gebrekkige mensdom sigbaar maak. Mag dit ons bemoedig terwyl ons nederig as verloste mense leef.